Kaap skop vas teen 20% tariefverhoging

Kaapstad. (Foto: Verskaf)

Die Kaapstadse raad het Eskom Woensdag skriftelik versoek om sy aansoek om die land se kragtarief met 20,5% te verhoog, terug te trek.

Eskom vra in sy aansoek aan die nasionale energiereguleerder (Nersa) dat dié verhoging vir die 2022‑’23-boekjaar landwyd ingestel moet word.

Geordin Hill-Lewis, Kaapstad se burgemeester, meen dié verhoging is onregverdig en dat Kapenaars dit nie kan bekostig nie.

In sy skrywe aan André de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof, vra Hill-Lewis dat die aansoek formeel onttrek moet word of dat die verhoging andersins aangepas word sodat dit in lyn met inflasie is.

“Soos die meeste Suid-Afrikaners sukkel Kapenaars ook om finansieel kop bo water te hou. Die Covid-19-pandemie en nasionale inperking het die sluiting van honderde ondernemings en die verlies van duisende werksgeleenthede tot gevolg gehad.

“Ons inwoners steier reeds onder die las van die stygende koste van energie, brandstof, kos en basiese verbruikersgoedere.”

Hill-Lewis sê ʼn tariefverhoging van 5,5%, soos tans deur die verbruikersprysindeks (VPI) uiteengesit, sou ʼn redeliker verhoging gewees het.

“Die prys van elektrisiteit het die afgelope 13 jaar met 307% gestyg, wat inflasie ver oorskry. Ten spyte daarvan dat Suid-Afrikaners meer vir krag betaal, het hulle onbetroubare elektrisiteitsvoorsiening ervaar.”

Hill-Lewis het ook benadruk dat die land die afgelope twee jaar die ergste inwerkingstelling van beurtkrag nóg ervaar het.

“Ek het aan mnr. De Ruyter erkenning gegee dat daar onder sy bestuur baie gedoen is om doeltreffendheid by Eskom te verbeter, en ek het sy pogings in dié verband geloof. Ek het ook toegegee dat Eskom duidelik verdere dringende stappe moet doen om sy skuld te verminder en sy finansiële volhoubaarheid te verbeter. Om dié las op sukkelende verbruikers se skouers te plaas, behoort egter nie die verstekoplossing te wees nie.”

Die burgemeester het in sy skrywe ook voorgestel dat Eskom se salarisrekening gesny moet word, en dat met “beginsellose verskaffers” wat goedere en dienste aan Eskom teen massiewe opgejaagde pryse lewer, gekanselleer word.

Eskom word ook versoek om ʼn daadwerklike oplossing vir korrupsie en wanbestuur te vind, geld wat tydens die staatskapingstyperk geplunder is te herwin en ʼn groter fokus op skuldinvordering te plaas.

“Die wet vereis dat Nersa die 2022‑’23-prysbepaling teen nie later nie as 15 Maart in die parlement ter tafel moet lê. Dit beteken daar is nog tyd vir Eskom om sy aansoek dringend te hersien. Die stad sal lede van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regerings (Salga), Nersa, en ander belanghebbendes versoek om Eskom se aansoek teen te staan ​​indien hulle versuim om dit te hersien,” lui die skrywe.

“Dit is ʼn uiterste onreg dat gewone Kapenaars – en inderdaad inwoners van elke munisipaliteit in die land – gedwing word om die koste te dra van Eskom se onvermoë om sy eie probleme op te los.

“Boonop sal die beplande verhoging sukkelende ondernemings se vermoë om winsgewend te funksioneer verder beperk, en dit byna onmoontlik maak om werk te behou en te skep. Dit sal die hoop op ekonomiese herstel in Suid-Afrika vernietig en bydra tot die armoedelas.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Belinda ·

Hulle wil meer vra maar hul kan ook nie byhou met die supply van elektrisiteit nie. Miskien as hul krag kan voorsien sal hul geld maak. No electricity, no money… simple soos dit.

Jack ·

Sal nie my asem ophou nie.Eskom werk teen ‘n verlies.Eskom het duisende onnodige werkers wat moet betaal word en teen die tempo wat generators en kragstasies in woonbuurte ontplof en uitbrand asook die kabel diefstal sal ek verbaas wees as hulle instem tot ‘n 5% verhoging.Nie maklik nie.Die handjie vol mense wat nog betaal moet nou maar opdik vir die wat nie betaal nie.

Anel ·

Dis nie net die mense in die Kaap wat sukkel nie!! Wat maak hulle beter as die res van die mense in die land? Die verhoging wat hulle wil hef is in elke geval buitensporig. Kry eers jul prioriteite reg, raak ontslae van die lot wat net bakhand staan en verlaag die buitensporige salarisse. Stop die korrupsie en kry die geld by die lit wat niks betaal nie. Dan praat ons weer.

Twallie ·

Ai. Niemand het gesê enigiets maak Kapenaars beter nie. As jy die artikel lees sal jy sien die ou wat die brief geskryf het Kaapstad se burgemeester is en sy amptelike werk doen deur op te staan vir die mense in sy stad, net soos ander metros se burgemeesters veronderstel is om te doen. Hy gaan nie in sy amptelike kapasiteit ‘n skrywe rig namens ander Metros nie, want dan tree hy buite sy jurisdiksie op.

Kalmeer.

My siening ·

Lees, hy praat ook dat ander metro’s ook in dieselfde probleem is, maar die ander metros sit met slapgatte wat die ANCriminals is!

ChrisR ·

Anel, trek dan Kaap toe skat……jou Burgermeester gee nie om.

B-Man ·

Bou julle eie kernkragstasie en verkoop oortollige krag aan Eskom.

Plaaskind ·

Hoe op dees aarde moet die verbruiker net aanhou opdok vir die Eskom diewe se geldgierigheid. Mens kan dit nie bekostig nie! Tsek Eskom TSEK!!!!

Jaco ·

Kaapstad is mos onder beheer van “die rassistiese DA”, soos wat die ANC gereeld sê. So eskom se versoek dat Kaapstad se kragtariewe met 20% styg, is seker maar ‘n manier om die DA kiesers in Kaapstad te straf

Anel ·

Dis nie net vir die Kaap nie maar vir die hele land. Dis net die Kaap wat beswaarmaak.

Anoniem ·

Die ander provinsiale regerings behoort dieselfde te doen as hulle enigsins vir hulle mense omgee. Die probleem lê egter by die groot woonbuurte wat nie betaal nie en krag onwettig aanlê, terwyl die munisipaliteite die gevolge moet dra.

Yolandie ·

En so word ons net van alle kante af gemelk!!!! G’n mens kan al die verhogings en kostes net bly absorbeer nie. Die gemiddelde inkomste SA’ners se salarisse het nie eers so gegroei soos ons onkostes nie. Hulle tap al lankal bloed uit ‘n klip.

JohanR ·

Man Stad Kaapstad jy stel teleur. Ek het vir ‘n verhooging van 65% gehoop, en in 2023 van 75%. 2024 kan miskien nog die beste jaar wees met ‘n verhooging van 95%!

piet ·

As ek R50 se prepaid krag koop, kry ek minder 18KW. Reeds onbekostigbaar duur.

AmY ·

Ek kan ESKOM nie meer bekostig nie, en het al oral gespaar waar ek kan. Ek kan nie meer nie!

Casper ·

Munisipaliteite skuld escom miljarde rand.Verbruikers skuld munisipaliteite miljarde rand.Hoe moet escom sy verpligtinge nakom.As jy nie betaal nie bad in koue water.Escom moet skuld verhaal van munisipaliteite maar die meeste van hulle is bankrot.

Cherokee ·

As jy oor meer inligting beskik het, sou jy weet dat ‘n hoeveelheid instansies bereid is om krag te voorsien, maar omdat dit kompetisie vir Eskom sal wees, wil die regering (lees ANC) dit nie toelaat nie.

Ek lei af ek moet jou ook wys op die ‘prestasie) bonusse wat deur hulle uitbetaal word. En wat van die R10m wat een van die kaders aan hulle skuld ná dit as pensioen aan hom uitbetaal is, na 3 jaar of so iets sê niks doen.

Johann ·

Hiers ‘n idee…actually ‘n basiese besigheids beginsel: hoe vra jy 20% meer vir iets wat jy verkoop WAT JY NIE VAN GENOEG HET OM TE VERKOOP NIE???????? Nie MET gebruik nie en nog minder as “pre-paid”!!!!! Maar nou ja, deesdae is die tipe bedrog seker verskoonbaaar as die”Afiika toepassing” van besigheid? Soos Sisulu die regsbank wil “verAfika”?

Alfred E Neuman ·

Ekonomie 101. Vraag en aanbod. Hoe minder jy het om te verkoop, en hoe groter die vraag na dít wat jy wil verkoop, hoe hoër kan jy jou prys maak, en almal saĺ steeds betaal. Die teenoorgestelde geld dan ook. As jy meer het om te verkoop as wat die vraag is, verlaag jy jou prys om meer te kan verkoop.

Dup ·

Die meeste belastings en heffings verhoog vêr bo die inflasiekoers maar die dienste gelewer verswak elke jaar/maand/dag.So,ons kry minder vir meer geld.Geen wonder die land se infrastruktuur stort in duie nie.

VaalDonkie ·

Wat ek nie kan verstaan nie is dat ek 17 eenhede krag gemiddeld gebruik die eerste helfte van die maand, en dan skielik 22 eenhede die laaste helfte terwyl ek min of meer dieselfde ding elke dag doen. So asof die metertjie sy vingertjie op die skaal hou.

Willem ·

Ontbind eskom heeltemal, sluit die klomp korrupte amptenare toe en gooi die sleutel weg en begin van vooraf. Elke provinsie behoort die reg te he om hul eie krag onafhanklik van asskom op te wek.

Lee101 ·

Hulle moet maar hulle geld kry by die plekke waar hulle verniet krag gegee het en by die Munisipaliteite wat nie hulle geld betaal het nie.

Pieter ·

Eskom, en munisipaliteite moet hul eerder daaraan toespits om diefstal van elektrisiteit deur onwettige verbindings uit te roei. As almal betaal vir hul krag, hoef daar nie tariefverhogings te wees nie. Tans betaal ons reeds ook die kragdiewe se krag!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.