Kaap skud vere reg vir nuwe LP’s

Argieffoto

Die parlement is besig om sy vere reg te skud vir die nuwe groep parlementslede wat dié naweek in die Moederstad gaan aankom vir die aanvang van die sesde demokraties verkose parlement se vyfjaartermyn.

Verwers en skoonmakers werk onverpoos om alles spiekeries te kry vir die aankomelinge wat aanvanklik in hotelle gehuisves gaan word tot die huisvesting in die drie parlementêre dorpies waar LP’s en amptenare goedkoop basiese huisvesting kry – Akasiapark, Pelican Park en Laboria Park – toegewys is.

Maandag gaan ʼn dag van oriëntasie, die neem van foto’s en die invul van vorms wees vir die LP’s – die nuwes asook diegene wat terugkeer vir ʼn verdere termyn.

Dis ʼn groot gebouekompleks om jou weg deur te vind en die eerste paar weke van ʼn nuwe parlementstermyn lewer maar altyd ʼn paar LP’s op wat ietwat verdwaas en verlore soek na vergaderlokale in die soms Bisantynse opset.

Dinsdag gaan partykoukusse die eerste keer vergader. Taktiek, werkswyse, etiket en parlementêre gebruike sal aan nuwe LP’s verduidelik word terwyl sommige partye hul nuwe swepe sal aanwys.

Woensdag kom die Nasionale Vergadering die eerste keer byeen. Hoofregter Mogoeng Mogoeng sal elke LP insweer (dit neem lank – hulle staan gewoonlik in groepe van tien voor die speakerstoel en lê hul ampseed in ʼn kakofonie van gelyktydige klank af).

Daarna sal Mogoeng die verkiesing van die speaker hanteer. Nadat die speaker verkies is, verlaat hy die lokaal uit respek vir die skeiding van magte tussen die geregtelike, uitvoerende en wetgewende gesag. Die nuwe speaker hanteer daarna eers die verkiesing van die nuwe adjunkspeaker en dan die verkiesing van die nuwe president.

Enige van die 400 lede van die Nasionale Vergadering kan as president genomineer word. As daar meer as een nominasie is, word die president deur middel van geheime stemming verkies – wat met die verkleinde ANC-meerderheid dalk net meer drama as in die verlede kan oplewer.

Nadat die president verkies is, word elke politieke party die geleentheid gegee om ʼn woord van gelukwensing te spreek voordat die Nasionale Vergadering verdaag.

Die nuwe president word Saterdag 25 Mei op Loftus Versfeld in Pretoria ingehuldig. Die aankondiging van die kabinet word op 26 of 27 Mei verwag, hoewel daar geen wetlike afsnypunt daarvoor is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kallie ·

Die gebeure in Kaapstad laat my koud. Daar is 23 miljoen mense wat verkies het om nie deel van die klugspel te wees nie.

Johan ·

Daar sal baie geld gespaar kan word as Suid-Afrika net een hoofstad het…

Gert van Wierdapark ·

Die proses van Orientasie neem nie in alle gevalle net een dag nie! Orientasie en inburgering in die gestoeltes van die Groot P/ment kan soms ‘n sitting of twee neem. Elke parlementslid maak meer as R1 miljoen per jaar sonder die byvoordele van behuising rondrits/vlieg (hopelik met ons eie bank-rot SAL) ens ens. Die kossies in groot tent is ook nie te versmaai nie. Hopelik geniet die ou spulletjie dit vir die volgende 5 jaar terwyl die stemvee voortploeter in die 25 jaar oue demo-crazy!

Tokkie ·

Los hierdie geldvermorsing en gee aandag aan misdaad en werkskepping

Paul ·

Wie de hel is hulle dat alles vir hulle spiekeries gekry moet word. Al die staats geboue val uitmekaar en dienslewering is pateties, maar die spul idiote moet alles reg wees.

Andreas ·

Die Kaap sal moet uithaal en wys dat die biesies soos nog nooit voorheen gebewe het nie, want die Kabinet sal moet besluit of die parlement Pretoria toe skuif. As daar nou so ‘n paar korrupte LP’s was, kon mens ander plan gemaak het.

Andreas ·

Kapenaars, en waar is ‘n klomp werksgeleenthede dan heen, ‘n astronomiese klomp, nie net direk nie, maar indirek? Buiten dit, daardie sentiment van die Parlement wat in Die Kaap is en waarvan die wêreld bewus is met die berg wat daar aan die agterkant sit? Hoeveel dra dit by tot toerisme? En julle piep nie. Laat daar eerder nou geld uitgehaal word om julle te promoveer, die Berg alleen sal dit nie doen nie.

Attie. ·

Cyril het seker sy buffelkoei van destyds verkoop om by te dra tot die miljoene wat die skouspel gaan kos. Ek sou hoop vir die toekoms gehad het indien die staat ‘n goedkoop inhuldiging verkies het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.