Kaap van storms: Sluise dekades laas só groot oopgemaak

(Skermgreep uit video)

Een van drie sluise is weens vandeesweek se swaar reën in die Wes-Kaap vir die eerste keer in meer as 30 jaar tot die hoogste vlak oopgemaak om water uit die Wemmershoekdam in die Wemmershoekrivier te laat vloei.

Water het teen Woensdagoggend teen 207 kubieke meter per sekonde deur dié drie sluise van die Wemmershoekdam gevloei. Die Stad Kaapstad het sedertdien beheer oor die drie sluise geneem en 105 kubieke meter word nou toegelaat om per sekonde deur te vloei om vloede te verhoed.

Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, sê die stelsel wat dié drie sluise beheer, word geaktiveer deur die stygende watervlak in die dam as gevolg van hoë reënval in die opvanggebied.

Reënvaldata wat sedert die begin van Junie aangeteken is by damme wat Kaapstad van water voorsien, toon heelwat meer reënval vergeleke met langtermyngemiddeldes vir hierdie tyd van die jaar.

Teen Vrydag het dié damme se damvlakke op 86,1% gestaan.

Hill-Lewis het Kapenaars daarvan verseker dat die metro ’n standaardbedryfsprosedure volg wat sluise betref.

“Dit word gekoppel aan ’n rampbestuursplan in koördinering met die Stellenbosch- en Drakenstein-munisipaliteit, sowel as die Wynland-distriksmunisipaliteit en die Suid-Afrikaanse Polisiediens.

“Die stad hou al sy damme fyn dop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.