Kaap weer Hollands met nuwe Akademia-kampus

Die private hoëronderwysinstelling Akademia gaan binne die volgende twee jaar ʼn voltydse kampus in die Wes-Kaap bekend stel.

Akademia, wat vanjaar sy twaalfde jaar as Afrikaanse studietuiste vier, geniet reeds ʼn teenwoordigheid in die Wes-Kaap by wyse van sentrums in George, Paarl en Somerset-Wes. Hierdie sentrums word benut deur studente wat via die nauurse afstandsmodel studeer.

Volgens Marthinus Visser, besturende direkteur van die instelling, berus die besluit om Akademia se voltydse kampusmodel, wat tans beperk is tot Centurion in Gauteng, verder uit te brei onder meer op deeglike demografiese navorsing. Aldus hierdie navorsingsbevindinge verteenwoordig die Wes-Kaap die grootste konsentrasie van Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika. “Hierdie werklikheid spreek direk tot die instelling se bestaansrede as ʼn onafhanklike hoëronderwysinstelling wat ten nouste verbonde is tot die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe.”

Die voorgestelde kampus sal studente nie net toegang bied tot Akademia se vyf dinamiese fakulteite nie, maar ook tot ʼn bruisende studentelewe. Volgens Visser sal studente tydens hul studiejare voluit hieraan kan deelneem en hul talente op só ʼn wyse ontwikkel dat hulle roepingsgedrewe tot voordeel van hul gemeenskap sal kan leef.

Marthinus-Visser-Akademia.jpg

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia

“Studentelewe by Akademia het dit ten doel om ʼn tuiste te skep waar studente se hart en denke geïntegreerd kan ontwikkel en ons is daartoe verbind om, soos reeds die geval is by ons kampusse in Centurion, ook in die Wes-Kaap in hierdie ontwikkeling van volronde studente te belê,” sê Visser.

Daar is nog nie vasgestelde tydlyne wat die opening van die nuwe Wes-Kaapse kampus betref nie, maar volgens Visser word daar reeds onverpoosd agter die skerms gewerk om in onder meer die nodige infrastruktuur- en kapasiteitsbehoeftes te voldoen. Die instelling het reeds ʼn bedryfsbestuurder vir die Wes-Kaap aangestel. Die soeke na ʼn geskikte ligging vir die kampus geniet nou voorkeur.

Dit word voorsien dat die voorgestelde kampus in die driehoek tussen die noordelike voorstede, Stellenbosch en Paarl, sal wees.

Volgens Visser spreek die voorgenome uitbreiding tot Akademia se pioniersgees, asook sy verbondenheid tot die gemeenskap. Die uitbreiding in die Wes-Kaap sal die reeds bestaande netwerk verder versterk en uitbrei. “Akademia is opgewonde oor dié vooruitsig en die toekomstige impak wat ons hier sal kan maak.”

Akademia het vanjaar ʼn bykomende voltydse kampus in Centurion in gebruik geneem en twee nuwe koshuise is bekend gestel. Daar word ook beoog om teen 2027 ʼn omvattende residensiële kampus daar te stel waar 5 000 voorgraadse en 2 000 nagraadse studente op ʼn pragtige kampus in Pretoria kan studeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

DJ ·

Dit is goeie nuus. Ons wens hulle baie sukses toe. Afrikaans het dit nodig in die Wes Kaap.

Saartjie ·

Hopelik is die nuwe kampus in die Noordelike voorstede – dan hoef ons kinders nie Stellenbosch toe te reis of trek nie. Ons is honger hier vir ‘n Akademia.

Wikkie ·

Dankie Solidariteit. Die studie kostes is tans vêr bokant my vuurmaakplek, maar ek hoop van harte dat genoeg studente by julle begin studeer, sodat die fooie in die toekoms dalk bietjie kan sak. Sal my dogter dan met liefde en trots by julle i stansies laat studeer. Met liefde. Wens ek self kon deur julle studeer. Wil graag ‘n tersiëre kwalifikasie agter my naam kry.

domheks ·

10000/10000! Wys vir cANCer wat gedoen kan word as daar nie skelms/korruptes by is nie! ONS SAL SELF!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.