Kaapse advokaat slaan Amerikaanse toekenning los

Van Links: Adjunkdirekteur van Openbare Vervolging in die Wes-Kaap en kenner van uitlewering, adv. Dave Damerell, Michael K Burgin van die Geheime Diens, adv. Robin Lewis en Ultrich Kruger van die Geheime Diens (Foto: Verskaf)

Die geheime diens van die Verenigde State van Amerika (VSA) het aan adv. Robin Lewis van Kaapstad ʼn medalje toegeken vir sy werk in die saak teen lede van die sogenaamde Black Axe-sindikaat. Agt buitelanders – wat moontlik deel vorm van die sindikaat – is verlede jaar in Kaapstad aangekeer en aangekla van verskeie oortredings, waaronder geldwassery en sameswering om bedrog te pleeg.

Die verdagtes het glo veral kwesbare weduwees of geskeide vroue geteiken wat geglo het hulle is in ʼn werklike romantiese verhouding, maar uiteindelik uit hul geld geswendel is. Die verdagtes het sosialemediawebwerwe of aanlyn afspraakwebwerwe gebruik om hul slagoffers te identifiseer en met hulle in verbinding te tree.

Só, word beweer, het die verdagtes vroue uit altesaam sowat R103 miljoen bedrieg.

Die geheime diens van die Verenigde State van Amerika (VSA) het aan adv. Robin Lewis van Kaapstad ʼn medalje toegeken vir sy werk in die saak teen lede van die sogenaamde Black Axe-sindikaat (Foto: Verskaf)

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, sê die verdagtes het verlede jaar om borgtog aansoek gedoen, waarna adv. Lewis en staatsadvokaat Lenro Badenhorst dit suksesvol teengestaan het.

“ʼn Uitleweringsproses om die verdagtes in Amerika te laat verhoor, het begin, maar hulle het ʼn tussentydse aansoek ingedien om die uitleweringsdokumente ontoelaatbaar te laat verklaar, en wou hê die hof moes bevind dat die dokumente nie behoorlik gewaarmerk is nie,” sê Ntabazalila.

“Die twee aanklaers het die aansoek teëgestaan en albei partye het hul argumente ingedien. Die hof het beslis dat die aansoek behoorlik gewaarmerk en toelaatbaar is.”

Ná die ontvangs van sy toekenning het adv. Lewis gesê hoewel hý die medalje ontvang het, het adv. Badenhorst ʼn aansienlike mate van bystand en leiding aan hom gebied. “Hy het ʼn sleutelrol in die saak gespeel. Só ook kol. De Wee, mnr. Klaasen van die departement van binnelandse sake en AO Van der Heever van Interpol.”

Die saak is tot 30 Maart vir ʼn verdere uitleweringsverhoor uitgestel.

Adv. Nicolette Bell, die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging, het die toekenning verwelkom en gesê dit is ʼn erkenning van adv. Lewis en ander rolspelers se harde werk om te verseker dat geregtigheid vir die slagoffers van dié misdade geskied.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieterbusa ·

Dis nou mos lekker om so iets te lees. Wel gedaan, baie geluk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.