Kaapse animasie wen talle pryse

Grafika: Stick Man

Grafika: Stick Man

Triggerfish, ʼn animasieateljee in Kaapstad, se kort rolprent Stick Man, het vandeesweek vier pryse by die Kidscreen-toekennings in Miami, Florida, ontvang.

Stick Man het die aand met die meeste pryse weggestap en het onder andere stof geskop in die oë van tekenprente soos Shaun the Sheep: The Farmer’s Llamas en Bruno & Boots: Go Jump in the Pool vir die beste eenmalige televisiefliek vir kinders.

Die 26 minuut lange kortfliek het ook die toekennings ontvang vir beste regie (Jeroen Jaspaert en Suid-Afrikaanse mederegisseur Daniel Snaddon), beste musiek en beste ontwerp.

Die Kidscreen-toekennings is die jongste pryse vir Stick Man, wat nou al reeds 11 internasionale toekennings op drie kontinente ontvang het.

Die fliek handel oor die avonture van ʼn stokmannetjie op ʼn epiese reis deur verskillende seisoene, gebaseer op die topverkoper prenteboek Julia Donaldson en Axel Scheffler (The Gruffalo). Hy bly in die familieboom saam met Stick Lady Love en hul kinders totdat hy al hoe verder van die huis af weggevoer word. Hy moet vir ʼn speelvolle brak weghardloop, beland in ʼn rivier, ontsnap uit ʼn swaan se nes en beland self bo-op ʼn vuurstapel, terwyl hy probeer om betyds voor Kersfees by sy gesin uit te kom.

Martin Freeman (The Hobbit) is die stem van Stick Man met Hugh Bonneville (Downtown Abbey) as Santa en Jennifer Saunders (Absolutely Fabulous) as die verteller.

Die fliek is tans op Showmax te sien.

Triggerfish het in 1996 sy deure in Kaapstad oopgemaak. Die ateljee het reeds twee vollengte flieks, Adventures in Zambezia (2012) en Khumba (2013) vrygestel. Hulle begin binnekort met ʼn derde fliek, Seal Team.

Triggerfish se tweede BBC One Kersfees-projek tesame met Magic Light Pictures, is Roald Dahl se Revolting Rhymes. Die première vind op 2 Maart plaas by die Artscape in samewerking met Kaapstad se Internasionale Animasiefees en Design Indaba.

Besoek Triggerfish se webwerf, volg hulle op Facebook, Twitter en Instagram.

‘n Lokprent volg onderaan die foto’s.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.