Kaapse bendespan behaal sukses

Argieffoto: SAPD

Die Wes-Kaapse teenbende-eenheid is in bendegeteisterde woonbuurte in die Kaapse Skiereiland ontplooi om inwoners veiliger te laat voel en hulle vertroue te gee in ʼn ingrypingsoperasie om bendegeweld te bestry.

Vrydag het die nuwe taakspan, wat bestaan uit speurders en operasionele lede van die SAPD, hul aandag toegespits op die Nyanga-polisiegroepering, sê kapt. FC van Wyk.

Omstreeks 16:00 was lede van die eenheid besig om ʼn woonplek in Bonteheuwelweg, Bonteheuwel, te deursoek toe hulle ʼn 44-jarige verdagte vir die besit van tien mandraxtablette in hegtenis geneem het.

ʼn Uur later het die eenheid se lede Hillcrest Court in Nooitgedacht gepatrolleer toe hulle ʼn verdagte jong man gewaar wat begin hardloop het. Hulle het hom agternagesit, ingehaal en deursoek.

Die lede het ʼn 9 mm-pistool en twee 9 mm-patrone by hom gekry. Hy is in hegtenis geneem in verband met die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. By nadere ondersoek het dit aan die lig gekom die vuurwapen is in Mitchells Plain as gesteel aangemeld.

Die 41-jarige verdagte kom na verwagting Maandag voor in die Bishop Lavis-landdroskantoor.

Omstreeks 18:00 Vrydag het lede gereageer op ʼn skietery in die Valhalla Park-omgewing van Bishop Lavis, waar hulle dadelik inligting opgevolg het oor ʼn verdagte wat in verband met ʼn moord gesoek word.

Terwyl hulle ʼn perseel in Eleanorstraat, Bishop Lavis, deursoek het, het hulle in ʼn wendyhuis afgekom op ʼn R5-aanvalsgeweer met 32 patrone gelaai in die magasyn.

Die vuurwapen is by die polisiekantoor in Bishop Lavis ingedien en sal vir ballistiese toetse gestuur word om vas te stel of dit in enige misdade gebruik is.

Lt.genl. KE Jula, Wes-Kaapse polisiekommissaris, het die lede van die teenbendetaakmag gelukgewens met hul toegewydheid. “Onwettige vuurwapens veroorsaak net terreur en hartseer in gemeenskappe waar geweldsmisdade hoogty vier.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Oom Kalahari ·

Dankie aan hierdie polisie lede vir hul toegewydheid en mens kam weer respek vir die polisie kry as hul hierdie kriminele kan vasvat en hul bende bedrywighede stop.

Ben ·

Baie goed. Dit moes al lankal gedoen gewees het. Miskien moet ons van die te veel ministers ontslae raak en meer sulke taakspanne aan stel.

Toit ·

Ag asb. Wat nou hoekom so groot ophef maak oor so min. So baie geld en personeel maar so min reseltaate. Kom kyk eerder na die oud polisie ons het sake dagga en drugs op een aand gekry met vuurwapens. Die drugs langs die pad verkoops tannie is meer en die helfte van haar kliënte het gewere. Ons moet ophou om tevrede te wees met so min. In die ou dae is die vrot plekke geïdentifiseer en met n stasie vol Polisie mane getakel met meer sukses.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.