Kaapse brand woed voort

Meer as 150 van die stad se brandbestryders spook steeds om die brand in bedwang te bring. (Foto: @DarthSatyr/Twitter)

Meer as 150 brandbestryders spook steeds om die brand wat Sondag aan die voet van Tafelberg uitgebreek het in bedwang te bring.

Jermaine Carelse, woordvoerder van Kaapstad se brand-en-nooddiens, sê vrywilligers, lede van Working on Fire en brandbestryders van Tafelberg Nasionale Park help met die brandbestrydingspogings.

“Die brand is nog nie in bedwang gebring nie. In hierdie stadium is die wind ʼn groot bydraende faktor,” sê Carelse.

Weens die sterk wind wat in die gebied waai, kon geen lugsteun nog aangewend word nie.

Die getal brandbestryders wat beseer is, het nou tot vier gestyg. Twee van hulle is verbonde aan die Stad Kaapstad se brandweerdiens.

Charlotte Powell, woordvoerder van die stad se ramprisikobestuursentrum, sê tot dusver moes inwoners by die Universiteit van Kaapstad (UK), asook inwoners van Peppertreeweg in Vredehoek, die ministeriële landgoed, Disa Park en die Mountain View-kompleks hul wonings verlaat.

Alle skole in Vredehoek is gevra om leerders en personeel huis toe te stuur en ʼn assessering van die situasie in Zonnebloem word gedoen.

Diegene met asemhalingsprobleme is gevra om binnenshuis te bly.

Skenkings wat die publiek aan nooddienswerkers gedoen het, word ook na bevelsposte langs die brandlyn versprei.

Die DA het die minister van omgewingsake, bosbou en vissery, Barbara Creecy, intussen gevra om ʼn dringende ondersoek te doen na die omstandighede wat gelei het tot die brand op die hange van Tafelberg, en die gevolglike skade aan geboue by die UK, Mostert se Meul en ander geboue.

Dave Bryant, die DA se woordvoerder oor omgewingsake, sê hulle het gevra dat ʼn ondersoek deur ʼn onafhanklike instelling gedoen word.

Die DA vra onder andere dat vasgestel word of alle brandbane behoorlik gesny en voor die brand in stand gehou is, of die bedreiging van die ou dennebome en rommel naby die UK deur SANParke geïdentifiseer is en hoekom niks daaraan gedoen is nie, asook of alle brandkrane in die omgewing in werkende toestand en voldoende was.

“Terwyl die warm weer en sterk wind beslis ʼn groot rol in die vinnige verspreiding van die brand gespeel het, moes daar meer doeltreffende gebeurlikheidsmaatreëls in werking gestel geword het om die vinnige verspreiding te stuit.

“SANParke en die UK moet antwoorde hieroor verskaf.”

Die Kaap van Goeie Hoop-DBV het reeds inspekteurs na veral die omgewing by die Rhodes-gedenkteken gestuur om enige beseerde of verdwaalde diere te help. (Foto: Facebook)

Bryant sê die minister het in Februarie in antwoord op ʼn parlementêre vraag van die DA die versekering gegee dat SANParke voorbereidings tref vir enige bergbrande en dat huise naby aan die berg deur brandbane beskerm word.

“Dit lyk nie of hierdie brandbane so doeltreffend is as wat gedink is nie. Die brand het voorstedelike huise bereik en groot skade by die UK aangerig.”

Brandende puin en vonke het na woonbuurte betreklik ver van die berg versprei en bome daar laat vlam vat.

Bryant het die brandbestryders, wildbewaarders, vrywilligers en wetstoepassers bedank vir hul voortgesette pogings om die situasie in bedwang te bring. “Ons gedagtes is ook by diegene wie se eiendom beskadig is of bedreig word.”

Maroela Media het vroeër berig minstens een persoon is reeds in die Duiwelspiek-omgewing in verband met die brande aangekeer.

Brandbestryders van Working on Fire in die omgewing van die Rhodes-gedenkteken. (Foto: Working on Fire/Twitter)

“Ons doen ʼn beroep op wetstoepassers om geen steen onaangeroer te laat in die ondersoek na die oorsaak van die brand wat soveel verwoesting gesaai en nie net eiendom beskadig het nie, maar ook die universiteit [van Kaapstad] se 2021- akademiese program hewig ontwrig het,” het Philly Mapulane, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor hoër onderwys, gesê.

Die komitee het ook sy medelye met die universiteitsgemeenskap betuig en het ʼn beroep op mense gedoen om studente met kos of ander hulp by te staan.

Die Universiteit van Pretoria (UP) het ook alle moontlike hulp aan sy eweknie in Kaapstad aangebied.

Prof. Tawana Kupe, visekanselier, het namens die Tuks-gemeenskap ʼn beroep op alumni, veral diegene naby die UK, gedoen om hul hulp aan die universiteit en sy studente te bied.

Laura Robinson, ʼn lid van die Kaapstadse erfenistrust, het Maandag gesê die trust is platgeslaan deur die nuus dat ʼn groot gedeelte van die kulturele landskap van die Rhodes-landgoed, die historiese Teekamer langs die Rhodes-gedenkteken en verskeie van die UK-geboue in die brand verwoes is.

“Terwyl ek hier skryf, is ons kantoor toe onder ʼn rookkleed en die son is bykans onsigbaar.”

Ander geboue wat verwoes is, sluit in Mostert se Meul, asook Cadboll, nog ʼn historiese huis, en ʼn gedeelte van die UK se Jagger-biblioteek.

“Dit is nie net die historiese geboue wat verwoes is nie, maar ook hul inhoud en versamelings; ʼn herinnering en hulpbron van ongelooflike waarde vir alle Suid-Afrikaners en die wêreld.”

Robinson sê die trust is gereed om te help waar hy ook al benodig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

pompies ·

Help my verstaan, die DA wil antwoorde by Creecy kry maar is hulle nie in beheer van Kaapstad nie. Wie was veronderstel om die brankrane na tegaan om seker te maak daar is nie probleme nie. Wat is dit wat ek nie verstaan nie.

Anoniem ·

Sanparke is verantwoordelik daarvoor, aangesien die gebied onder hulle val. Sanparke word nie deur die DA bestuur nie.

Mariana ·

Die wat verantwoordelik is vir hierdie veragterlike daad sal moet rekenskap gee. Mens en dier word hierdeur geraak.

Tokkel ·

Hulle moet dit verbied om langs die pad te stop en te party. Kyk op ‘n sondae hoe lyk die oupad in Du Toitskloofpas hoe mense sit en drink en braai. Dagga word gesoek indie berge en gerook…en rondlopers kan mos nou maar enige plek bly deesdae. DA doen goeie werk indie kaap, maar hul hande word afgekap gedurig!

Danie ·

Die verskoning vir n mens wat die brand veroorsaak het moet gevonnis word om lewenslank oorgroeide publieke eiendomme skoon te maak sodat n brandgevaar verhoed word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.