Kaapse brandbestryders aangeval

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Verskaf)

Brandbestryders van die Stad Kaapstad is oor die naweek aangeval toe hulle ’n brand in die vroeë oggendure in Wynberg probeer blus het. Die metro veroordeel dié aanval ten sterkste te midde van verskeie verwoestende brande wat die afgelope week in die Moederstad geblus moes word.

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sê ’n groep brandbestryders is Sondag omstreeks 02:00 na ’n brand in die Bonnytoun- informele nedersetting ontbied waar lede van die publiek hul toerusting afgeneem en hulle beledigings toegesnou het.

Dit het tot ’n onderonsie gelei en een van die brandbestryders is met ’n voorwerp van agter geslaan.

Smith sê die metro se brandbestryders beleef in hul besigste tyd van die jaar al hoe meer voorvalle van dié aard. Hy verwys spesifiek na die verwoestende brand wat verlede week sowat 6 000 mense van die Masiphumelele- informele nedersetting buite Kommetjie dakloos gelaat het wanneer hy die belangrikheid van brandbestryders beklemtoon.

“Dit maak dus absoluut geen sin dat iemand brandbestryders lastig val tydens die uitvoering van hul pligte terwyl hulle probeer om lewens en eiendom te red nie. Hierdie soort gedrag kom al hoe meer voor en kan eenvoudig nie geduld word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.