Kaapse ‘brandstigter’ deur inwoner en sy honde aangekeer

Van links: Maximus en Storm. Dié brawe honde het die man wat die brand by Tafelberg gestig het, op heterdaad betrap (Foto: Verskaf)

Dit is te danke aan ’n inwoner van Kaapstad en sy twee brawe waghonde dat een van die mans wat glo die brand aan die voet van Tafelberg gestig het, nou agter tralies sit. Die man het Dinsdag vlugtig in die landdroshof in Kaapstad verskyn.

Janine Evans vertel sy, haar man, Yazeed, en hul kinders het Sondag omstreeks 19:30 buitekant hul huis gestaan en die vlamme wat teen die berg gewoed het, dopgehou. Die Evans-gesin se huis is reg langs die Tafelberg Nasionale Park geleë.

“Ons het drie figure gesien wat weg van die vlamme teen die berg beweeg het. Ons het aanvanklik gedink dit was brandweermanne,” vertel Janine aan Maroela Media. “Ons het toe gesien hoe ’n ander brand ongeveer 10 meter van die eerste een af onstaan het. Ons het ook wat gelyk het soos klein flitse gesien en besef dat iemand moontlik besig is om die brand te stig.”

Yazeed en die egpaar se oudste seun het hul twee Duitse herdershonde, Storm en Maximus, gegryp en is teen die berg uit. “Aangesien daar geen direkte toegang tot die berg is nie, moes hulle ʼn ompad van ongeveer ’n kilometer vat om tot by ’n staproete teen die berg uit te kom.”

“Die honde het vooruit teen die berg uitgehardloop. Hulle het aan die bopunt van die staproete na ’n bos, wat naby aan die nuutgestigte brand was, gehardloop. Daar het ’n persoon gesit, maar die honde het nie vir hom geblaf of aangeval nie. Yazeed het na die man toe geloop en vir hom gesê dat hy nie moet beweeg nie. Hy het hom ook gevra wat hy besig is om te doen.”

Janine sê hoewel hulle aanvanklik drie figure gesien het, het hulle net op die een persoon afgekom.

“Volgens Yazeed was die man kalm en het dit gelyk asof hy een of ander geestesversteuring gehad het. Hy het nie lekker geweet wat om hom aangaan nie en het ook nie eintlik gepraat nie.”

Janine vertel haar ander twee seuns het intussen Bonginkosi Mnkafu, ’n sekuriteitswag van City Bowl Armed Response Guard, geroep. Hy het gehelp om die man aan te hou totdat die polisie op die toneel aangekom het.

Kol. Andrè Traut, woordvoerder van die polisie, het bevestig die polisie het die man omstreeks 20:10 in hegtenis geneem. Hy is intussen geïdentifiseer as Frederick Mhangazo (35) van Tanzanië.

Traut sê die ander twee verdagtes kon daarin slaag om van die toneel te vlug.

Na wat verneem word word is Mhangazo in hegtenis geneem in verband met afsonderlike brande wat Sondagaand langs die Phillip Kgosanarylaan gestig is en nie die brand wat in die omgewing van die Rhodes-gedenkteken begin het nie. Mhangazo ontken dat hy by die brandstigting betrokke was.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, sê Mhangazo het Dinsdag in die landdroshof op aanklag van brandstigting verskyn. Hy sal na verwagting volgende Woensdag weer in die hof verskyn wanneer hy dan om borgtog sal aansoek doen.

Janine vertel Maximus en Storm is albei op 31 Maart 2016 gebore en het pas vyf jaar oud geword. Volgens Janine het die gesin hulle vir beskerming gekry nadat daar ’n paar keer by hul huis ingebreek is. Hulle het opleiding by die K9-opleidingsentrum ondergaan.

Maroela Media het vroeër berig brandbestryders is reeds Sondagoggend ontplooi nadat ʼn brand naby die Rhodes-gedenkteken aan die voet van Tafelberg uitgebreek het. Brandbestryders spook sedertdien om die brand onder beheer te bring.

Geboue van die Universiteit van Kaapstad moes intussen ontruim word nadat die brand daarheen versprei het. Verskeie van die geboue op die kampus, sowel as historiese materiaal, het in die slag gebly.

Die brand het Maandag ook in die rigting van Vredehoek versprei. Inwoners van Peppertreeweg en Disa Park is gevra om hul wonings te verlaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Frank ·

Nee wat, die staat se saak klink nie sterk nie. Daars hoeveel Bergies op die berg en hulle het ene aangekeer. Verkeerde tyd, verkeerde plek.

Strandloper ·

Ons almal weet wie het hom R10 in die hand gestop vir sy lafhartige daad.

Rentia ·

Die honde kort ‘n skaapboud elk! En die brandstigter moes hulle in die vlamme ingejaag het. Hoeveel derduisende diere en voëls het verbrand deur sy dade!

Johanncb ·

Hy is agter tralies, maar gaan dit die skade herstel en die verlore geskrifte terugbring?

Sarel ·

Die mzn is ‘n decoy weg vzn die regte skuldiges ook hoekom die ander twee hom daar gelos het. Soek by die
Ander species wat ‘n Grudge teen Rhodes en die Universiteit het.

JM ·

Ons bly in ‘n geografies pragtige land, met soveel siek inwoners wat net wil vernietig.

Robert ·

Meestal buitelanders wat ons pragtige land kom verwoes!!! Hulle hoort nie hier nie.

Karina ·

Waarom ‘n brand so naby aan Rhodes ? Ek dink die was nie sommer gewone brandstigting nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.