Kaapse damme byna 90% vol

Argieffoto: Stad Kaapstad

Die Kaap blyk weer Hollands te wees wat sy damvlakke betref ná onlangse reën in die Wes-Kaap.

Volgens die Stad Kaapstad het die algehele kapasiteit van die damme wat water aan die Kaapse metro verskaf verlede week tot 88% gestyg. Dít vergeleke met 84% die vorige week.

Die Kaap se damvlakke het verlede jaar dié tyd op 81,7% gestaan.

“Die reën van die vorige weke het ʼn welkome hupstoot vir ons damme gebring. Die verdere herstel van ons [damvlakke] is baie bemoedigend, maar dit is belangrik om daarop te let dat die huidige kapasiteit nie net danksy reënval is nie, maar ook die volgehoue ​​vermindering in waterverbruik,” het Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir water en afval, Maandag in ʼn verklaring gesê.

Luidens die verklaring het waterverbruik wel verlede week met 19 miljoen liter per dag toegeneem, met ʼn gemiddelde verbruik van 661 miljoen liter per dag vergeleke met ʼn gemiddeld van 642 miljoen liter per dag die vorige week.

Volgens Limberg sal ʼn besluit oor die metro se waterbeperkings vir die hidrologiese jaar 2020-’21 ná hersiening van die reënseisoen, wat op 31 Oktober eindig, geneem word.

“Ons bedank ons ​​inwoners vir hul volgehoue ​​nakoming van die waterbeperkings, aangesien hierdie gesamentlike poging van Kapenaars ʼn belangrike rol speel in die feit dat ons damme vol is. Ons versoek inwoners wat ʼn beroep doen op die opheffing van beperkings om asseblief hierdie belangrike faktor in gedagte te hou,” het Limberg gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Duck ·

Ek is, en ek glo, almal is vreeslik dankbaar dat ons damme vol is, maar die City Of Cape Town bly ons R100 elke maand aftrek, dis nou ‘n “levi” en om by te dra tot die “onsuiwering van see water” en word vaste basiesie fooi genoem
wat waar is? Lekker nè
Pathetic

Jacobus ·

Wonderlikke nuus vir die Kaap. Ongelukkig word Vaaldam se sluise oopgelos om die rou riool wat ANC lokale regerings in Vaal stort weg te voer. Gruwelikke skande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.