Kaapse damme voller; droogte pla steeds

Theewaterskloofdam (Foto: Henk Kruger/ANA)

Die vlak van Kaapse damme het die afgelope week met sowat 3,3% gestyg ná die onlangse reën in die Wes-Kaap, het die departement van water en sanitasie Dinsdag gesê. Dit beteken Kaapse damme is nou 82,9% vol.

Volgens die departement was die reënval die afgelope winter onder die gemiddeld. Ondanks die swaar reën die afgelope naweek in dele van die Wes-Kaap, benadruk die departement steeds dat soveel as moontlik water bespaar moet word om só watersekerheid in die provinsie aansienlik te verbeter.

Waterverbruik het die afgelope week tot 625 miljoen liter per dag vir dié provinsie afgeneem, wat binne die daaglikse teiken van 650 miljoen liter is.

Volgens Xanthea Limberg, Kaapstadse burgemeesterskomiteelid vir water en afval, is damme nou meer as 80% vol omdat Wes-Kaapse inwoners water bespaar.

“Dit is egter steeds droër as die gemiddelde jaar, wat ernstige kommer wek dat die drastiese afname in reënvalvlakke wat ons onlangs ervaar het, permanent kan wees,” sê Limberg.

Die departement van water en sanitasie doen ’n beroep op Wes-Kaapse inwoners om hul huidige waterverbruik-gewoontes te handhaaf totdat beperkings vir die komende jaar bepaal word. Die departement maan ook inwoners om kennis te neem van die beperkingsvlakke en om dit nie te oorskry nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Oud Tukkie ·

Dis die trane van die baie All Black ondersteuners in die Kaap wat die damme so vol gemaak het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.