
Argieffoto van die Theewaterskloofdam (Foto: Maroela Media)
Die onlangse reën in die Wes-Kaap het damme in dié provinsie ʼn welkome hupstoot gegee, maar die Stad Kaapstad sê reënval was vanjaar, vir die vyfde agtereenvolgende winter, laer as gewoonlik.
Damvlakke staan tans op 84,5%, ʼn styging van 2,4% sedert verlede week.
Kaapstad sê die goeie nuus is dat sy data wys inwoners gebruik water steeds baie konserwatief. Verbruik die afgelope week was 600 miljoen liter per dag, terwyl die stad se teiken 650 miljoen liter per dag is.
“Aan die einde van vanjaar se reënseisoen moet inwoners geluk gewens word met hul pogings om water te bespaar. Dit was tot dusver uiters belangrik vir herstel. Daar is egter steeds groot onsekerheid oor hoeveel reën ons na verwagting in die jare wat kom, gaan kry. Ons glo dit is wys om ʼn waterslim-aanslag op die kort- en mediumtermyn te volg,” het Xanthea Limberg, Kaapstadse burgemeesterskomiteelid vir water en afval, gesê.
Sy het inwoners gevra om bewus te bly van beperkingsvlakke om ʼn balans te vind tussen minimum ontwrigting en die versekering dat daar genoeg water beskikbaar is vir die stad om te funksioneer.
“As verbruikspatrone die afgelope winter enige aanduiding is, gaan dit nie vir inwoners ʼn probleem wees om die huidige peil vol te hou nie,” het Limberg gesê.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
3 Kommentare
Omtrend al die damme in die land is so te se toe geslik en beslaan nie eers 50% van hul oorspronklike kapasiteit nie. 100% of oorloop beteken nie veel as daar teveel slik is en die bruikbare water nog minder is as wat jy dink nie….water raak vining klaar!
Die jong dame se opmerking maak gin stik sin. As hierdie jaar se reenval ook so laag is soos die afgelope 5 jaar, hoe het die damme dan so vol geloop? Hierdie jaar se reenval was die beste i n jare!