Kaapse damvlakke steeds aan die styg

Argieffoto van die Theewaterskloofdam. (Foto: Tony Georgiou via Reënval in SA, Facebook)

Die totale kapasiteit van die damme wat die Stad Kaapstad van water voorsien, het die afgelope week met 1,8% tot byna propvol (98,2%) gestyg.

Die metro se damvlakke is aansienlik hoër as verlede jaar dié tyd toe damvlakke se kapasiteit op 82% gestaan het.

Die Stad Kaapstad het Dinsdag in ʼn verklaring gesê die metro se waterverbruik het die afgelope week met 19 miljoen liter per dag gestyg – vanaf gemiddeld 647 miljoen liter per dag verlede week tot 666 miljoen liter per dag vandeesweek.

Luidens die verklaring ontvang die Stad in die lig van sy damme wat byna vol is, talle navrae oor wat dit beteken in terme van waterbeperkings en watertariewe.

Daar word verduidelik dat die metro se tariewe tans op die tweede laagste vlak en baie laer as tydens die piek van die droogte is. Die laagste tariefvlak word nou vir implementering oorweeg. Dié vlak is effens laer as die huidige vlak 1-tariewe.

“Die Stad hersien tans tariewe en waterbeperkingsvlakke in afwagting op die begin van die nuwe hidrologiese jaar (begin November). Finale besluite sal geneem word in oorleg met die nasionale departement van water en sanitasie wat die leiding sal neem in die beplanning vir die nuwe jaar, en die ander munisipaliteite en besproeiingsrade met wie die Stad die damme deel.”

Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir water en afval, het intussen Kaapse inwoners en besighede bedank vir die rol wat hulle gespeel het in die herstel van die metro damvlakke. Dit sluit in die besparing van water asook die tydige betalings van rekeninge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

shari ·

Wonderlike nuus dat die Kapenaanaars se lewe weer terugkeer na normals.Hoop julle kry nog reen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.