Kaapse dierekliniek bedreig deur onwettige besetters

Van die onwettige strukture wat opgerig is (Foto: Verskaf)

ʼn Bekende dierekliniek in Khayelitsha, Kaapstad, word sedert Julie deur onwettige grondbesetters bedreig. Honderde onwettige strukture is sedertdien reg rondom die SA.MAST (South African Mass Animal Sterilisation Trust)-dierekliniek opgerig en besetters dreig die kliniek se personeel en versper ingange na die kliniek.

Volgens die kliniek se bestuur is die eerste drie onwettige strukture op 27 Julie reg langs die dierekliniek en -hospitaal opgerig. ʼn Dag later het omtrent 100 besetters voor die kliniek se in- en uitgang vergader. Personeel kon nie in of uit die fasiliteite gaan nie.

Dit kom op die hakke van ʼn hofbevel wat die Stad Kaapstad verbied om onwettige strukture op stadsgrond te verwyder of besetters uit te sit.

Volgens Tamsin Nel, SA.MAST se besturende direkteur, het die besetters die kliniek herhaaldelik sedert einde Julie oorval en die ingange waar die kliniek se ambulanse moet deurbeweeg onder meer versper. Sy sê hulle het ook aggressiewe dreigemente van die besetters ontvang dat hulle die fasiliteite gaan afbrand.

“Hulle het gedreig dat hulle ons gebou gaan afbrand as ons nie vir hulle water en elektrisiteit voorsien nie,” sê Nel. “Die besetters het ook doodsdreigemente teenoor ons personeel gemaak. Die personeel is nou te bang om te kom werk.”

Onwettige strukture is reg rondom die dierekliniek opgerig (Foto: Verskaf)

Nel sê die meeste strukture wat opgerig is, is deur mense gebou wat nie eens in die strukture woon nie. “Hulle plan is om die strukture aan die hoogste ‘bieër’ te verhuur. Die moontlikheid is groot dat die strukture in sjebiens of tavernes omskep gaan word of selfs vir dwelmhandel gebruik gaan word.”

Nel sê misdaad, insluitend talle skietgevegte, het beduidend toegeneem en inwoners vrees vir hul lewens.

Volgens Nel is hulle al raadop omdat owerhede nie daarin slaag om voldoende op die grondbesetting te reageer nie. “Hulle ignoreer soms die inwoners se noodkreet.”

SA.MAST doen ʼn beroep op die publiek om die owerhede te kontak en die situasie onder hul aandag te bring.

SA.MAST is die enigste dierewelsynsorganisasie wat deurlopend vir meer as ʼn dekade lank al ʼn gratis massa-sterilisasie- en primêre behandelingsprogramme aan diere-eienaars van die omgewing bied. Die organisasie behandel ook siek en beseerde diere, verskaf skuiling aan verwaarloosde diere sonder huise en beskik oor ʼn gratis ambulansdiens.

Kaapstad het sedert 1 Julie meer as 55 00 onwettige strukture in nagenoeg 30 verskillende gebiede in die metro verwyder en volgens die stad is meer as 100 verskillende voorvalle van grondbesetting aangemeld.

Maroela Media het vroeër berig die burgemeester van Kaapstad, Dan Plato, het die stad se regspan opdrag gegee om te appelleer teen ʼn bevel van die Kaapstadse hooggeregshof wat die stad verbied om sy grond teen besetters te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Andre ·

Kan jy nou meer..Nie eers die diere hospitaal kan die klomp ontkom nie.Maak die kliniek toe en skuif die diere na ‘n ander veilige hospitaal en DAN sorteer hierdie gemors uit.Hoe moeilik kan dit wees om die klomp skrik te maak met iets…spoke of enige iets.

Ansie ·

Hoe kan ‘n hof ‘n bevel maak wat reg teen die wet indruis? Ek hoop Stad Kaapstad appelleer.

Persheks Adri ·

Nee genade die gereg is daar vir die kriminele en dis hoekom hulle doen wat hulle wil! Rooi pet en MRK mos betrokke…

Anoniem ·

MRK moet die SRMK word – selektiewe mense regte kommissie

Elmarie ·

Hulle doen SULKE goeie werk en GRATIS! Ek ondersteun hul maandeliks finansieel en hul het regtig hulp nodig mense. Arme diere wat weereens gaan ly!

Prikkie ·

Kan jy dit nou glo!

Dit is sekerlik net in SA waar die reg voortdurend die kant van die oortreder kies en wetsgehoorsame burgers in die steek laat en liederlik versaak.

koos10 ·

Beteken dit dat ek en so 100 van my pelle vir ons huise op die uniegebou se grasvelde kan gaan bou en ons mag nie verwyder word nie??

Mariana ·

Daar word nie opgetree teen onwettige besetters nie. Dit is die oogmerk van ANC en EFF en partye soos hulle wat chaos wil saai, hulle soek die Kaap en dit sal nie verbaas as hierdie besetters betaal word om dit te doen nie. En so word onskuldige mens en dier bedreig. Gaan kyk maar wie die besetters is. Hele spul kriminele elemente. Hulle is die land vol………en die polisie doen niks, tree liewer op teen vreedsame betogers, mense wat nie dreig of breek en brand nie. Nee die wat opstaan vir plaasmoorde word sommer van hul motorfietse geruk, maar die wat brand, breek en bedreig word gelos om te doen wat hul wil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.