Kaapse dorp lamgelê deur Covid-19

Meer as 20 van die dorp se 250 inwoners het teen Vrydag positief getoets vir die koronavirus. (Foto: Facebook / Pedro Aden Oktober)

Die klein plattelandse gemeenskap van Kliprand in Namakwaland is tans in ’n krisis gedompel ná 22 van die 250 inwoners (sowat 9%) verlede week positief vir Covid-19 getoets het. Drie mense is na wat verneem word ook weens die virus dood.

Monika de Jager, bestuurder van maatskappy Namaqua Weskus Toerisme, sê dat die dorp sedertdien alle bedrywighede en skoolaktiwiteite moes staak en dat bykans al die inwoners tans in isolasie is.

“Die Kaap-Agri-tak asook die enigste winkel op die dorp is reeds vir die afgelope paar dae gesluit. Die gemeenskap kan nêrens kos of sanitêre middels koop nie.

Skenkings het sedertdien na Kliprand gestroom. (Foto: Verskaf)

“Boonop is die naaste dorp, Bitterfontein, sowat 80 km weg en self ’n piepklein dorpie. Openbare vervoer is uiters beperk aangesien daar tans geen taxi’s tussen dié dorpe ry nie.”

Luidens ’n inskrywing op ds. Pedro Oktober van die VGK Vredendal se Facebook-blad is die dorp se sopkombuis ook gesluit omdat die persoon wat dit bestuur positief vir Covid-19 getoets het.

Die nuus van die koronakrisis in Kliprand het egter groot reaksie ontlok met skenkings, waaronder kos, medikasie en toiletware, wat van reg oor die land na die dorp gestroom het.

“Gemeenskappe het werklik hulle harte vir Kliprand oopgemaak. Ons het glad nie die oorweldigende reaksie verwag toe ons verlede week vir skenkings gevra het nie.

“Ons sal vandeesweek nog skenkings gaan aflewer,” sê De Jager.

Riaan van der Watt, hoof van Laerskool Vredendal wat sowat 150 km van dié dorp geleë is, het Vrydag kospakkies en skoonmaakmiddels met behulp van die Nuwerus-polisie aan dié gemeenskap gevat.

Hy sê hulle moes ’n 60 km lange grondpad aandurf om by die afgeleë dorp uit te kom.

Baie van dié produkte is by die Primêre Skool Nuwefontein afgelewer waar die skoolhoof, Arrie Cloete, dit by die hek ontvang het. Die skool is ook tans gesluit.

Die Laerskool Vredendal het skoonmaakmiddels en kospakkies aan die plaaslike skool geskenk. (Foto: Facebook / Laerskool Vredendal)

“Dit was maar ’n droewige gevoel. Dis tjoepstil en daar gaan niks aan nie.”

Volgens Van der Watt se inligting is sowat 15 van die skool se 35 leerders tans in kwarantyn en het nóg vier positief vir Covid-19 getoets.

Hy sê egter dat die gemeenskap se swaarkry nie net as gevolg van Covid-19 is nie, maar dat hulle oor die algemeen onder moeilike omstandighede leef.

“Die mense van Kliprand kry swaar. Daar is regtig ’n groot behoefte.”

Van der Watt sê Laerskool Vredendal sal voortaan aktief by die plaaslike skool betrokke wees en beplan om hulle as “susterskool” aan te neem.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Anoniem ·

Hoe het die inwoners daar gekom as daar nie openbare vervoer is nie.
Is daar nie opvoeding, leiding dat daar hoop beskaam dat van die vroue/mans leiding
kan neem as hul sien dinge loop so só skeef nie? Ag nee regtig iemand in daardie gemeeskap
kon darem leiding geneem het met die dorpie en die gemeenskap is so klein, as almal hand
bygesit het kon dit ‘n pragtige plekkie wees

Samuel ·

Dit is ‘n BAIE klein en arm gemeenskap. Maklik om mond uit te spoel as jy nie die omstandighede ken nie.

Welgedaan Laerskool Vredendal. Trots op julle.

Anoniem ·

Ek stem met jou saam Samuel , ek spoel nie my mond uit nie. As ek daar naby gewoon het sou ek uitgereik het. Ek verstaan 100% van die armoede en hulp wat die gemeenskap nodig het, my punt is net,hoekom moet daar eers mense doodgaan voor daar ingegryp word. as die ouers/gemeenskap bymekaar gekom het, self ‘n onderwyser leiding geneem het, en ‘n plan in plek gekry het indien covid sou plaasvind . Laerskool Vredendal is ‘n voorbeeld van omgee en naaste liefde.

MakersMark ·

Dink die virus het die dorp vanaf Kaapstad ingeval, eers bekruip en toe omsingel en tot oorgawe gedwing. Die CV19 vlag is gehys en die dorp is nou onder volle CV19 beheer. Dis die eerste keer dat so metode gesien is gewoonlik word gemeenskappe geinfekteer agv persoon tot persoon oodrag omdat maskers nie gedra word en afstandhouding nie deur mense toegepas word nie.

modiglianigirl ·

Pittig MakersMark. Baie komiese metode om ‘n pynlike dom vraag te beantwoord.

apollonio ·

Uitstekende kommentaar Elinette. Ek ken Kliprand baie goed en moedig diegene (wat probeer bo-op die bootjie kom) aan om eendag die dorpie te besoek. Neem lekkergoed vir die kinders saam.

Jan ·

Die arme mense se immuniteit is deur angs afgetakel. Ons is besig om ‘n omvangryke mensgemaakte humanitêre krisis te skep.

MakersMark ·

Genuine ? So almal wat siek is van CV19 het eers ‘n angsaanval gehad ? Wat ‘n spul snert.

KhoiKhoi ·

Dankie vir die positiewe bydraes.
Wonder altyd hoe ek sou reageer as dit my ouers, vrou, kind, kleinkind of ander familielid is wat ‘n negatiewe episode moet evar.
Erger, ek !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.