ʼn Krediteureklerk en haar man is in die Bellville-handelshof in Kaapstad gevonnis nadat hulle die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) uit meer as R3 miljoen bedrieg het.
Berenice Knockpaal (44) en Carlo Wayne Knockpaal (47) is skuldig bevind aan bedrog en geldwassery oor ʼn tydperk wat tussen 2014 en 2018 gestrek het, het Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, gesê.
Berenice was in daardie stadium ʼn krediteureklerk by Saru se bedryf- en finansiële afdeling.
Haar pligte het ingesluit die verwerking van verskaffers se fakture, die rekonsiliasie van verskaffers se rekeninge en die betaling van dié verskaffers.
“Sy het Saru se verskaffers se bankrekeninge met dié van haar man vervang en R3,4 miljoen in die rekeninge inbetaal,” het Ntabazalila gesê.
“Sy het dan die geld gebruik om aankope te doen, dit onttrek en sommige daarvan na ander bankrekeninge oorbetaal om die oorsprong en skuif van die geld te versteek.”
Berenice is 14 jaar tronkstraf opgelê vir 147 aanklagte van bedrog en vyf jaar vir geldwassery. Die helfte van die vonnis vir bedrog is opgeskort en die hof het gelas dat die vonnis vir geldwassery gelyklopend met die oorblywende vonnis vir bedrog uitgedien word.
Sy sal dus ʼn effektiewe sewe jaar tronkstraf uitdien.
Die staat het ook suksesvol aansoek gedoen dat Knockpaal se pensioen by Saru aan die staat verbeurd verklaar word.
Berenice se man is korrektiewe toesig van drie jaar vir die 147 bedrogklagte opgelê. Dit sluit in huisarres, 16 ure korrektiewe diens per maand – wat skoonmaak- en instandhoudingspligte by die Diep River-polisiestasie insluit – en die deurloop van rehabilitasieprogramme.
Die sewe jaar tronkstraf wat hy vir geldwassery opgelê is, is in die geheel vir vyf jaar opgeskort, onderworpe aan die bepaling dat hy nie in hierdie tyd weer aan soortgelyke oortredings skuldig bevind word nie.
Ntabazalila het gesê die NVG verwelkom die vonnisse.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
11 Kommentare
Is daar enige fondse terugbetaal. Dit beteken niks om slegs skuldig te wees, maar die geld word nie verhaal nie.
Ander mense kan so gou gestraf word vir geldwassery,maar Jakob Zuma word bly uitgestel,SA regstelsel verkramp.
Regstelsel is onbetroubaar
Hoe het dit gebeur sonder dat jy iets agtergekom het Jurie?
En wat van die geld. Kan hulle dit nou hou vir wanneer sy uitkom