Kaapse Forum betoog teen borgtog vir man wat vrou se keel sny

Bernard Pieters, bestuurder van gemeenskapsaktivering, en Elfrieda Saunders van Kaapse Forum voor die hof (Foto verskaf)

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum en gemeenskapslede het Vrydag voor die Athlone-landdroshof in Kaapstad betoog teen borgtog vir Arthur Sass wat daarvan aangekla word dat hy sy vrou, Genevieve Snyders, op 28 November in die borskas gesteek en haar keel gesny het.

Snyders was by ’n winkel om kos vir haar kind te gaan koop toe sy aangeval is. Die beskuldigde word na bewering sedert 2008 ook gesoek in verband met die moord op sy vorige vrou, sê Bernard Pieters, bestuurder van gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum. Sass is Woensdag in hegtenis geneem.

Kaapse Forum het met plakkate waarop slagspreuke soos “Justice 4 Genevieve #NO BAIL”, “Silence is violence” en “Weg met GBV” voor die hof betoog.

Volgens Pieters moet enige vorm van geslagsgebaseerde geweld ten sterkste veroordeel en uitgeroei word. Hy voer aan dat die afwenteling van polisiëringsmag na provinsiale vlak en die stigting van ’n spesialiseenheid om geslagsgebaseerde geweld te ondersoek, noodsaaklik is om dié probleem die hoof te bied.

“Misdaad is een van die grootste struikelblokke vir ekonomiese vooruitgang in Suid-Afrika. Dit is veral betreurenswaardig as gesinne, wat die boublok is van enige standvastige samelewing, gebuk moet gaan onder geweld teenoor vroue. Dit is tragiese morele verval in die ergste vorm,” sê Pieters.

Kaapse Forum het reeds verskeie vennootskappe aangegaan om die pandemie van geslagsgebaseerde geweld in Kaapse gemeenskappe te takel. ’n Voorbeeld hiervan is die samewerking met die Mosselbaai-sopkombuis wat deur die oudsoldaat William Sam bestuur word. Slagoffers van geslagsgebaseerde geweld vorm hier ’n ondersteuningsnetwerk waar hulle hul stories met mekaar deel en ook deur middel van gemeenskapswerk saam genesing vind.

Die aansoek om borgtog is uitgestel tot 14 Desember. Sass bly intussen in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Casper ·

Vyftien jaar later en hy word nou gearresteer vir hierdie aanval.Gaan hy nou aangekla word vir sy eerste vrou se dood.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.