Kaapse Forum eis referendum oor afwenteling van polisiemagte  

Heindrich Wyngaard

ʼn Brief is aan Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, gestuur waarin hy versoek is om aan te dui of hy ten gunste sal wees van ʼn referendum oor die afwenteling van polisiemagte in die provinsie.

Die Kaapse Forum, as ʼn nuwe burgerlike organisasie in die Wes-Kaap, glo dat só ’n referendum gehou moet word en het die aankondiging tydens sy amptelike bekendstelling in die Bo-Kaap gemaak.

Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van die Kaapse Forum, het gesê Winde is versoek om aan te dui of hy ten gunste daarvan sal wees en indien wel sal die Kaapse Forum help om regsekerheid daaroor te kry deur ’n hofgeding.

Kaapse Forum is ’n organisasie sonder winsbejag wat deur sy tien fokusareas daarop gemik is om in ’n massabeweging te ontwikkel. Hierdie fokusareas is veiligheid, belasting, behuising, energie, water, voedselsekuriteit (grondsake, landbou en visserye), die strafregstelsel, onderwys, infrastruktuur (openbare vervoer, hawens en spoornetwerk) en gesondheid. Die Kaapse Forum glo hierdie staatsfunksies behoort na die provinsie, munisipaliteite en gemeenskappe afgewentel te word.

Polisiëring sal voorkeur geniet aangesien alle gemeenskappe daagliks daardeur geraak word. Die polisie se onvermoë om ernstige misdaad, soos bendegeweld, moorde en plaasaanvalle hok te slaan is maar net een aanduiding van hoe die ANC se obsessie met sentralisering en kaderontplooiing staatsfunksies lamlê.

Kaapse Forum glo ’n referendum moet gehou word sodat Wes-Kaapse gemeenskappe se steun vir twee kwessies getoets kan word: eerstens of polisiemagte van die nasionale regering na die provinsiale regering afgewentel moet word en tweedens of Wes-Kaapse belastingbetalersgeld, wat uit die nasionale fiskus vir polisiëring bewillig word, direk aan die Wes-Kaapse regering oorbetaal moet word.

William Waugh, Carol van der Linde, Heindrich Wyngaard, JP Biko Kuyter en Kallie Kriel.

“Soos ons dit in ons manifes stel, sal die uitbouing van gemeenskapselfstandigheid gemeenskappe in staat stel om toenemend hul toekoms in hul eie hande te neem. Met ander woorde, die Kaap se toekoms behoort in Kaapse hande geplaas te word,” sê Wyngaard.

Wyngaard het ook die direksielede van die Kaapse Forum aangekondig wat die organisasie in sy doelwitte sal ondersteun: Wyngaard (uitvoerende voorsitter), William Waugh (bedryfshoof), Maryna Marengo-Barnard (regsgeleerde), Carol van der Linde (strateeg), William Sezoe (onderwysstudent en taalaktivis), Kallie Kriel (AfriForum-verteenwoordiger), Malixole Gwatyu (landboukundige) en JP Biko Keyter (korporatiewe kommunikasiekundige en entrepreneur).

“Terwyl die Kaapse Forum ruimte laat vir gemeenskappe om hul diversiteit uit te leef, wil ons vir alle gemeenskappe die burgerlike organisasie van voorkeur word. Ons aanvaar dat daar noodwendig verskille tussen gemeenskappe oor sekere kwessies mag bestaan, maar ons glo dit is beter om te fokus op dít waaroor ons saamstem,” voeg Wyngaard by.

“Die Kaap was nog altyd ’n plek van samekoms vir mense met verskillende agtergronde, kulture, tale en geloofsoortuigings. Ons moet daarop voortbou deur hande te vat met mekaar en ’n veilige en welvarende toekoms vir alle gemeenskappe te bou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Chris ·

Lees eers die Grondwet voor julle wegspring, funksies en derglike dinge kannie sommer met ‘n plaaslike referendum besluit word nie al is die bedoeling hoe goed

annie ·

Mmm… Die uiteindelike plan is ‘n party. Indien Afriforum beplan om daar in te bed… is julle baie welkom om af te stig. Slinksheid was ‘n truuk wat toeka in die Kaapse die Boere hul waens laat pak het.

Samuel ·

Afstigting kan net goed wees om onder die ANC juk uit te kom.

Miss J ·

Ek stem 100% saam. Laat elke provinsie self oor hulle areas besluite neem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.