Kaapse gesondheidswerkers ly nou onder ‘misdaad-virus’

(Argieffoto: pixabay)

Verskeie gesondheidswerkers van die Stad Kaapstad moes die afgelope paar weke gewapende rowers, diewe, vandale en selfs doodsdreigemente die hoof bied.

Die metro sê nou dit is onaanvaarbaar dat gesondheidswerkers bedreig word deur die einste gemeenskappe wat hulle gedurende die Covid-19-pandemie dien.

“Personeel doen wat hulle kan om te verseker dat die regte gesondheidsprotokol vir almal se veiligheid nagekom word. Indien hulle verhoed word om dit te doen, stuur ons op ’n ramp af wat infeksies betref,” waarsku Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid en gesondheid.

Volgens Badroodien is omgewingsgesondheidsbeamptes twee weke gelede in Crossroads oorval nadat hulle ’n gesondheids- en higiëne-ondersoek in die gemeenskap voltooi het.

Een van die beamptes se selfoon is gedurende die voorval gesteel.

Ander personeellede van die Stad Kaapstad is ook van hul besittings beroof toe hulle op pad na die Nolungile-kliniek in Khayelitsha deur gewapende rowers oorval is. Die aanvallers het toegang tot die perseel verkry deur oor die draadheining te spring.

Bykomende veiligheidsmaatreëls is intussen by die kliniek aangebring.

Die motor van ’n JoJo-watertenk is by ’n kliniek in Parkwood gesteel terwyl die pype van só ’n watertenk by ’n kliniek in Lentegeur voete gekry het. ’n Covid-19-toetshokkie is ook hiér beskadig.

“Die geld wat ons aan verskerpte veiligheidsmaatreëls bestee, kon elders gebruik word. Misdadigers neem meer as net hardwerkende personeellede se besittings, hulle beroof gemeenskappe van broodnodige diensgeriewe en infrastruktuur,” sê Badroodien.

Badroodien doen ook ’n beroep op Kapenaars om op die uitkyk te wees vir bedrieërs wat munt slaan uit die Covid-19-pandemie deurdat hulle winkeleienaars oortuig dat hulle as diensverskaffers die winkel of onderneming sal sluit indien die eienaar nie van ’n spesifieke ontsmettingsdiens gebruik maak nie.

Hierdie vals ondernemings verskaf dan ’n dokument wat aandui dat die perseel ontsmet is en gee ’n sertifikaat aan die winkeleienaar wat kwansuis geldig is vir ’n maand. In sommige gevalle word daar selfs daarop aangedring dat winkeleienaars ’n spesiale bleikmiddel by hulle koop, wat dan vir toekomstige ontsmettingsdoeleindes gebruik moet word.

Badroodien bevestig dat dit hoegenaamd nie verpligtend is om van enige ontsmettingsdienste gebruik te maak nie. “Oppervlakke kan maklik self ontsmet word met ’n oplossing van verdunde huishoudelike bleikmiddel. Regulasies ingevolge die Rampbestuurswet maak nie voorsiening daarvoor dat persele gesluit kan word weens ’n gebrek aan sterilisering nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mallie ·

Dit sou nie in die ou bedeling gebeur het nie. Wys jou wat die ANC alles reg kry.

Alet ·

Hulle gee nie ‘n dooi duit om nie. Nie ‘n snars nie. Hoekom dink enige iemand dat dit hulle sal pla as hulle dit doen?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.