Kaapse ‘held’ dalk aan Covid-19 dood

‘n Huldeblyk aan wyle Grant Smith. (Foto: Facebook)

Die stigterslid en hoofadministrateur van die misdaadbekampingsgroep Western Cape Gangwatch (WCGW) in die Wes-Kaap is verlede week onverwags dood aan wat sommiges sê moontlik Covid-19 kan wees.

Die WCGW het verlede Donderdag Smith se dood weens “‘n siektetoestand” aangekondig. ‘n Bron naby aan Smith het aan Maroela Media gesê hy het vermoedelik Covid-19 onder lede gehad.

Die WCGW poog om bendegeweld in die Wes-Kaap te bekamp en was al betrokke by die oplos van verskeie hoëprofielmoorde, insluitend die moord op Meghan Cremer van Philippi in Augustus 2019.

Min mense weet egter dat Grant Smith of Master G soos hy in sommige kringe bekend gestaan het, daagliks alles op die spel geplaas het om misdaad op die Kaapse Vlakte te help bekamp.

Een van Smith se grootste mylpale is die stigting van die WCGW, ʼn netwerk wat bende- en kriminele bedrywighede blootlê. Die netwerk bestaan uit 40 WhatsApp-groepe met meer as 250 lede elk; ʼn webblad; ʼn Facebook-blad met 95 701 volgelinge; en meer as ʼn 1 000 lede op die aanlyn geselsgroep Telegram.

“Gangwatch is gestig in 2014 met die doel om ʼn revolusie teen die aanslag van bendes te begin. Ons wil die vrees breek wat gemeenskappe het vir bendes deur hul name te onthul en die woord ‘bende’ te assosieer met ʼn lae standaard,” het Smith voor sy dood aan Maroela Media gesê.

WCGW en lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en plaaslike wetstoepassers in die Wes-Kaap bereik merkwaardige deurbrake, het Smith destyds gesê.

Die Kaapse Vlakte. (Foto: Verskaf)

“Ons was betrokke by die motorfietsmoord op die N1 [in Kaapstad] waartydens ʼn vrou beroof en [noodlottig] geskiet is. Inligting was deurgestuur na ons groepe en die verdagtes sowel as vuurwapens is gevind,” het Grant vertel.

ʼn Kennis van Grant, wat anoniem wil bly, het ook die uitsonderlike aanlyn netwerk geloof en vertel hoe WCGW ʼn aandeel gehad het in die inhegtenisneming van die drie verdagtes in die moord op Cremer in 2019. Cremer het op 3 Augustus spoorloos verdwyn. Vyf dae en ʼn uitgebreide soektog later, is haar liggaam by ʼn sandmyn in Philippi gevind. Sy was ten volle geklee en ʼn tou was om haar nek vasgemaak.

“Ontelbare gesteelde motors en vermiste persone is gevind deur ons groepe. Ons het so baie wat hoofopskrifte gehaal het waaroor ons nie kan praat nie weens sensitiewe inligting,” het hy bygevoeg.

Dieselfde kennis beskryf Smith dood as ʼn groot skok en sê tydens hul laaste gesprek het Smith erken hy is siek. Hy het ʼn ruk tevore, soos sy gewoonte altyd was, ʼn bejaarde paartjie in Heideveld langs die pad opgelaai, wat albei gehoes het en grieperig was. Die kennis het voorgestel dat hy hom vir COVID-19 moet laat toets, maar hy het nooit gegaan nie.

Na die aankondiging van sy afsterwe op WCGW se Facebook-blad het huldeblyke ingestroom. Gemeenskapslede sê sy dood is ʼn groot verlies, terwyl sommiges hom ook as ʼn geestelike leier beskryf. Op haar Facebook-blad het Candice van der Rheede van die Western Cape Missing Person Unit (WCMPU) op haar beurt ook hulde aan Smith gebring en gesê sy gaan veral sy humor mis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Althes

Dit is baie hartseer. Soms wonder mens waarom die goeie siele altyd vroeg doodgaan.