Kaapse heli-ongeluk: Ervare vlieënier sterf

Die foto van Marais is Saterdag geneem. Foto: @DylanJamesZA op Twitter.

Die foto van Marais is Saterdag geneem. Foto: @DylanJamesZA op Twitter.

Hendrik “Bees” Marais, wat Sondagmiddag dood is nadat hy ʼn noodlanding met sy helikopter by Kaappunt moes maak, was ʼn ervare vlieënier en ʼn “legende”.

Evelyn Holtzhausen, woordvoerder van Working on Fire (WoF), het gesê die ongeluk het naby Olifantsbos in die Tafelberg Nasionale Park uitgebreek. Marais en van sy kollegas is na die gebied uitgeroep toe brande daar uitgebreek het.

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, het haar medelye uitgespreek aan Marais se familie, vriende en kollegas. “Ek is baie hartseer oor die tragiese verlies van ʼn legendariese vlieënier. Ons groet hom en bring hulde aan hom vir sy bydrae in die red van lewens en die beskerming van eiendom.”

Marais was ʼn ervare vlieënier en het onder meer vir die Suid-Afrikaanse weermag, Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Rooikruis gevlieg. Volgens De Lille word daar berading aan Marais se kollegas verskaf.

Edna Molewa, minister van omgewingsake, het Marais geloof vir sy bydrae die afgelope week om die brande in Kaapstad onder beheer te bring. “As ’n nasie salueer ons die dapperheid en diens van hierdie toegewyde brandbestryders, en betreur ons die verlies van mnr. Marais in die uitvoering van sy pligte.”

Marais laat sy vrou en kinders agter. Die Burgerlugvaartowerheid ondersoek die oorsaak van die ongeluk.

Die reusebrand wat verlede Sondag in Muizenberg uitgebreek het, was teen Vrydag onder bedwang. Brandbestryders is egter oor die naweek ingespan om seker te maak die brand vlam nie weer op nie. Die brand het in die week na Ou Kaapse Weg, Chapmanspiek, Houtbaai en Tokai versprei.

Teen Woensdag moes sowat 500 mense hul huise ontruim en ʼn brandbestryder het brandwonde opgedoen. Altesaam 52 verswakte bejaardes van die Noordhoek-aftreeoord moes vir rookinaseming behandel word. Meer as 2 000 mense het gehelp om die brand te bestry. Ongeveer 2 miljoen liter water is met 2 000 waterbomme oor die brand gestort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anton ·

RIV Oom Bees. Jy is ‘n legende en ‘n inspirasie vir almal wie jou ontmoet het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.