Kaapse huurders nou eienaars danksy kostevrye oordragprogram  

Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, en burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, Carl Pophaim, by inwoners van Lavender Hill wat nou eienaars van hul huureenhede geword het. (Foto: Verskaf)

Verskeie inwoners van Lavender Hill in Kaapstad het vandeesweek breed geglimlag toe die stad eenhede wat dié inwoners by die stad gehuur het, op hul name oorgedra het.

Verskeie Kaapstadse inwoners wat eenhede by dié stadsraad gehuur het, is nou trotse huiseienaars danksy  die metro se unieke kostevrye oordragprogram wat huiseienaarskap bevorder. Dié program is ʼn jaar gelede van stapel gestuur.

Geordin Hill-Lewis, Kaapstad se burgemeester, en Carl Pophaim, burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, het ʼn paar van dié nuwe huiseienaars die afgelope week besoek.

“Ongeveer ʼn jaar gelede het ons ʼn unieke program van stapel gestuur om kwalifiserende begunstigdes te bemagtig om kostevry eienaarskap van hul eie huise te neem. Ons is die enigste metro in Suid-Afrika wat hierdie inisiatief bestuur, wat eintlik meer op waardigheid en inklusiwiteit deur eiendomseienaarskap gefokus is,” het Hill-Lewis gesê.

“Ons het ongeveer 22 000 huureenhede of gedienste persele in stadsbesit waar huurders kan kwalifiseer om eienaars te word sonder enige koste. Ons het byna R40 miljoen aan hierdie kostevrye oordragte vir die volgende drie jaar toegeken. Deur hierdie program finansier ons ook oordragkoste sowel as die versekeringskoste van die eenheid totdat die eiendom op die huurders se name geregistreer is.”

Pophaim sê die program sal in die nuwe jaar verder uitgebrei word, en is een van die maniere waarop die stad hoop vir sy inwoners wil skep.

“Om ʼn eiendom te besit – waar jy voorheen weens apartheidswetgewing dit nie kon doen nie – is een van die belangrikste vorms van bemagtiging en regstelling.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.