Kaapse man sterf dae ná hy in hospitaal trou

Nina saam met Jason op hul troudag (Foto: Facebook)

Nina saam met Jason op hul troudag (Foto: Facebook)

Hulle het op 27 Oktober vanjaar sommer in die hospitaal ewige trou aan mekaar beloof. Dit was een van sy gróótste hartsbegeertes, en daarmee saam ʼn belofte om later, wanneer hy gesond is, weer te trou. Maar Jason Saunders van Kaapstad het op 7 November sy stryd teen breinkanker verloor en sy weduwee, Nina van Rooyen, is nou verpletter oor ʼn stryd wat die jong egpaar gehoop het om te wen.

Jason (32) is in Maart vanjaar met ʼn aggressiewe vorm van breinkanker gediagnoseer.

Ná dokters ʼn noodoperasie uitgevoer het en hy ook bestraling en chemoterapie ondergaan het, het dokters aan familie gesê dat hy slegs ʼn paar maande oor het om te lewe.

Dié “mees nederige en liefdevolle mens” se veggees was egter sterker as die kanker, en ʼn MRI-skandering in laat Junie vanjaar het gewys dat die gewas gekrimp het.

“Dinge het positief begin lyk,” skryf Nina op hul Go Get Funding-blad. “Daarom het ek en Jason in Augustus verloof geraak. Ons het ons troue begin beplan, en hy was selfs reg om amper weer werk toe te gaan.”

Nina en Jason toe hy nog gesond was (Foto: Facebook)

Nina en Jason toe hy nog gesond was (Foto: Facebook)

Sy toestand het kort daarna egter versleg, en ná Jason van erge rugpyn en nekspasmas gekla het, het dokters bevind dat die kanker nou na sy ruggraat versprei het.

Nina en die res van die familie het juis daarom ʼn skarefinansieringswebwerf op die been gebring omdat hy sy stryd teen kanker moes voortsit en hulle mediese fonds uitgeput was.

Jason het derhalwe ook sy vermoë om ver afstande te loop, branderplank te ry en te bestuur verloor.

Nina het aan die tydskrif You vertel hulle is op 27 Oktober in die Mediclinic Durbanville getroud. “Dit gee ons hoop om aan te klou,” het sy gesê. “Om met die vrou van sy drome te trou, was een van die dinge op sy wenslysie. Hy wou nie meer wag nie, want die lewe is te kort.”

Hoewel hulle beplan het om later “ordentlik” te trou, het Jason sy stryd teen kanker enkele dae daarna, ʼn dag voor haar verjaarsdag, verloor.

“My geliefde man, ʼn broer, seun en vriend vir baie is vreedsaam oorlede op 7 November om 16:25. Vriende en familie het van heinde en ver gekom om Jason te ondersteun in sy stryd teen hierdie hartverskeurende siekte. Dit is duidelik hoe baie mense se lewe hy aangeraak het met sy lewenslustige persoonlikheid en omgee-natuur. Ons sal jou altyd mis, my liefie. Rus in vrede, my wonderlike man en sielsgenoot,” skryf sy op Facebook.

ʼn Roudiens vir Jason word Vrydag 11 November om 14:00 by die Hillsong Church in Century City in Kaapstad gehou. Diegene wat dit bywoon, word gevra om iets in blou, sy gunstelingkleur, te dra.

Bron: Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

lettie ·

Wat n hartseer en diep maar ook n inspirerende lewensverhaal. Sterkte aan sy vrou en sy familie.

Jean ·

Ag julle is so pragtig. Dankie dat julle sy dag vir hom mooi gemaak het en sy drome waar gemaak het. Ek glo julle sal die spesiale dag altyd onthou, en dat julle die mooi herinneringe van hom altyd in julle harte sal ronddra. Baie jammer vir sy nuwe vroutjie en familie. Sterkte vir julle!

Hannelie ·

Sterkte liewe Nina. Mag jy vertroosting kry. Dink aan jou en sy familie in hierdie moeilike tyd.

Heleen ·

So hartseer ons het onlangs dierbare vriend va ons kinders aan breinkanker verloor…op 35jarige ouderdom..sterkte aan sy famielie

Johann ·

Ware manne huil nie…hulle WEEN! So ek ween nou n paar emmers vol. Jason; ken jou van wat ek sopas lees en sien en selfs my beperkte “kennis” van jou laat my weer glo aan die goedheid en gesonde bedoelinge van n mens en n man wat skaamteloos sy liefde aan sy vrou herken en erken. Rus rustig; en weet jys n HERO in my oë!

WitBlits ·

Jason was meer as ‘n oorwinnaar, want hy het sedert Maart toe kanker by hom gediagnoseer is voortgeleef tot 7 Nov en nou het hy die ewige lewe!

Koos1 ·

Baie sterkte aan die familie, ek dink ook in hierdie tyd aan julle!

Kanker vra nie uit oor ourderdom nie. Gelukkig het ons baie goeie organisasies soos Hospice en Cansa. Asseblief mense ondersteun hulle. Hulle vra nie geld om te help met behandeling en hospitalisasie nie. Hulle werk net met donasies, en waardeer enige iets waarmee hulle gehelp kan word, van ‘n blikkie koffie (vir die pasiente) to ou yskaste (om te verkoop in hulle winkeltjies).

Karel ·

Kan n mens nie anders as om te huil in die hitte nie! Nina jy is die rykste mens in die wereld met alles waarmee God jou gaan seen…Ek is self n kanker lyer en weet hoe nodig ons liefde het. Dankie dat jy dit so onvoorwaarlik vir hom gegee het. Jason rus in vrede my vriend

rudolph ·

Nina jy is n vrou 1000..jou ondersteuning aan Jason was van onskatbare waarde..sterkte vorentoe..

Vicky ·

Kyk hierdie storie laat mens mooi dink aan dit wat jy het en moet vashou want die lewe gaan soos n oogwink verby. en soos ek lees hoe julle manne “ween” soos Johann dit noem kry ek sommer meer trane in my oe. n Man is nie n klip nie. Hy het n hart wat klop net soos die vrou! Nina Bly sterk dit is makliker gese as gedaan maar bly glo dat hy n goeie lewe gehad het en toe jy sy vrou geword het het hy n VOL lewe gehad dit was genoeg vir hom. Sterkte Nina ♥

Vivian ·

My hart is sommer seer saam jou. Mag die Here jou versterk en vertroos, saam jul families.

LS ·

Dit is vreeslik hartseer – SHOE !!!
Sterkte aan sy vrou en sy familie en al sy vriende.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.