Kaapse moordsyfer daal ná weermag ingryp

Weermaglede op die Kaapse Vlakte. (Foto: Ayanda Ndamane/ANA)

Die Wes-Kaapse polisie sê 13 weke ná die weermag as deel van Operasie Lockdown in die Wes-Kaap ontplooi is, is die moordsyfer in die Kaapstadse metropool besig om stadigaan te daal.

In Mei vanjaar is ʼn skokkende 73 moorde binne ʼn enkele week aangemeld, gevolg deur 13 moorde wat net ʼn paar weke later binne 48 uur in die provinsie aangemeld is. “Die situasie is besig om te stabiliseer en provinsiaal is die weeklikse moordkoers nou in die 30’s. Dit is ʼn aanduiding van die harde werk van die geïntegreerde magte, asook ontplooiings deur stasies en die provinsie,” het brig. Novela Potelwa, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, gesê.

“Afgesien van die syfers, is die afwesigheid van ernstige geweldsmisdaad, veral oor naweke wanneer misdaadvoorvalle dikwels ʼn hoogtepunt bereik, op sigself ʼn aanduiding dat die operasionele ingryping besig is om vrugte af te werp.”

Die polisie sê hy is reeds besig met gebeurlikheidsplanne vir die uiteindelike onttrekking van die bykomende steun aan die provinsie. Pres. Cyril Ramaphosa het Operasie Lockdown vroeër tot Maart aanstaande jaar verleng.

Potelwa het gesê operasies word gedryf deur die ontleding van misdaad in die gebied. “Met die verloop van tyd kry dié operasies nie veel aandag nie, maar alle rolspelers – soos die polisie, metropolisie, verkeersdienste, weermag en in sommige gevalle talle buurtwaglede – word week na week in ʼn hele aantal gebiede ontplooi om veiligheid vir almal te verseker. ”

Klopjagte, voertuigdeursoekings en padblokkades is deesdae ʼn algemene gesig, veral oor naweke.

“Altesaam 889 verdagtes is die afgelope twee weke aangekeer vir misdade wat insluit moord, poging tot moord, aanranding en gewapende roof. Hiervan was 337 gesoekte verdagtes,” het Potelwa gesê.

Die polisie het gesê die optredes duur voort. Hy het ook ʼn beroep op inwoners gedoen om misdaadverwante inligting aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SjN ·

Die goeie nuus is die moordsyfer het gedaal maar die slegte nuus is dat die aanwas syfer gaan styg.

gert ·

Nou toe, stuur dan nou die res van die weermag plase toe.

Tammy ·

Hoeveel van die wat aangekeer is, is gevonnis en sit in die tronk? As iemand weet deel dit met ons. Sal interessant wees of die belastinggeld wel positiewe resultate ook kan lewer…..

Sandra ·

Die weer ag het nou Du Noon toe geskuif. Hou maar dop, Die syfers gaan weer draai.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.