Kaapse motoriste gewaarsku oor N2-roofkomplot

Argieffoto Foto: www.capetown.travel

Argieffoto Foto: www.capetown.travel

Kaapse motoriste word gewaarsku oor ʼn nuwe roofkomplot waar betonblokke op die N2-hoofweg geplaas word om motors tot stilstand te dwing en motoriste dan van hul besittings beroof word.

JP Smith, Kaapstadse burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het gesê twee verkeersbeamptes het Sondag net voor middernag op die N2 in die rigting van Somerset-Wes gery toe hulle ʼn stilstaande Toyota Tazz, met sy noodligte aangeskakel, naby die R300-afrit opgemerk het. “Die beamptes het ook drie mans gesien wat na die motor toe gehardloop het en gehoor hoe iemand vanuit die motor skree,” het Smith gesê.

Die beamptes het agter die verdagtes aangehardloop en polisiebystand ontbied, maar die verdagtes het in nabygeleë boustrukture verdwyn. Die vroulike motoris is deur die mans aangerand en van haar handsak en selfoon beroof. Haar motor het ʼn pap band gekry as gevolg van die betonblokke op die pad. Die beamptes het ook drie ander motors op ʼn nabygeleë verkeerseiland gekry wat almal pap bande gehad het. Die verkeersbeamptes het die betonblokke verwyder.

Smith het gesê die misdadigers maak waarskynlik misbruik van die mistige weerstoestande wat veroorsaak dat hindernisse op die pad moeilik sigbaar is. “Ek doen ʼn beroep op motoriste om ekstra versigtig te wees wanneer hulle in die aand bestuur. Ons het talle gesprekke met die provinsiale regering, die SAPD en die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap gehad oor veiligheid op die N2 omdat dit duidelik is dat misdadigers sal aanhou om motoriste te teiken solank as wat hulle dink dat hulle daarmee kan wegkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Francois ·

Wat van die Metro Polisie patroleer bietjie die pad ELKE nag – albei kante. Hulle weet dit gebeur gereeld, maar doen niks?

Roelof Baker ·

Metro Polisie seker daarmee betrokke ook en vermy die area op die bepaalde tyd.

Jolandi ·

Hierdie praktyk gaan al ‘n hele paar jaar aan. My man is al in 2012 geteiken op presies dieselfde manier in mistige toestande op dieselfde plek.

Marius ·

metro polisie sal eerder langs snelweg sit en spoed kameras beman as om misdaad voorkoming te doen.

dorette ·

Waarom is daar nou nog nie kameras op die N2 tussen die R300 en Somerset Wes nie ?
Hoeveel insidente moet daar nog wees voor kameras op die stuik pad kom ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.