Kaapse munisipale swembaddens dán oop

Foto: Luthando Tyhalibongo/Stad Kaapstad

Die Stad Kaapstad het aangekondig dat 20 van sy openbare swembaddens Vrydag sal heropen, maar het terselfdertyd daarop gewys dat dit nie sake soos gewoonlik gaan wees nie.

Die Kaapse departement van ontspanning en parke het 38 swembaddens oor die hele stad, waarvan drie binne oorde geleë is. Dié drie is vir eksklusiewe gebruik deur besoekers aan die oorde en sal eers vanaf 1 Desember 2020 oop wees.

Altesaam 20 van die 35 munisipale swembaddens sal op 16 Oktober heropen, terwyl die oorblywende 15 op alternatiewe datums weer oop sal wees weens herstelwerk en opknappings wat by die swembaddens aan die gang is.

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, sê besoekers aan die swembaddens sal aan die vlak 1-regulasies moet voldoen. Die getal mense wat toegelaat word by die oop swembaddens is met 50% van die kapasiteit van elke swembad verminder. As die maksimum kapasiteit dus 500 is, sal slegs 250 toegang tot die fasiliteit kry.

Mense se temperatuur sal gemeet word en diegene met ʼn temperatuurlesing van meer as 38 grade Celsius sal nie toegelaat word om die fasiliteit binne te gaan nie. Besoekers moet sosiale afstand in en om die swembad behou. Geen storte of geriewe om aan en uit te trek is beskikbaar nie.

Die volgende swembaddens sal van 16 Oktober 2020 tot 12 April 2021 oop wees: Atlantis, Trafalgar, Langa, Khayelitsha, Athlone, Bonteheuwel, Goodwood, Hanoverpark, Manenberg, Ruyterwacht, Brown’s Farm, Eastridge, Lentegeur, Mnandi, Muizenberg, Westridge en Wynberg.

Die swembaddens in Seepunt, Strand en Retreat heropen op 16 Oktober en bly oop vir die jaar.

Die swembaddens wat later sal heropen weens instandhouding wat tans plaasvind, is:

  • Kensington en Delft vanaf 1 November 2020
  • Blue Downs se binnenshuise swembad vanaf 1 November 2020 en sal die hele jaar oop bly
  • Bellville, Parow-Noord, Emthonjeni, Vulindlela en Bellville-Suid vanaf 1 Desember 2020
  • Langstraat vanaf 14 Desember 2020 en sal die hele jaar oop bly
  • Elsiesrivier vanaf 15 Desember 2020
  • Parowvallei vanaf 1 Januarie 2021
  • Morningstar vanaf 2 Januarie 2021
  • Ravensmead en Newlands vanaf 1 Februarie 2020

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.