Kaapse onnie steeds soek, vermoedelik dood

Dean Dempsey (24). Foto: Verskaf

Dean Dempsey (24). Foto: Verskaf

Daar bestaan ʼn sterk moontlikheid dat Dean Dempsey, die 24-jarige onderwyser van Malmesbury in die Wes-Kaap wat twee naweke terug spoorloos verdwyn het, moontlik sy eie lewe geneem het.

Konst. Henry du Rand, woordvoerder van die Malmesbury-polisie, het Donderdag aan Maroela Media bevestig Dempsey word steeds gesoek, maar die polisie vermoed daar is ʼn liggaam.

Dempsey se motor, ʼn wit Toyota Yaris, is verlede Dinsdag verlate in die parkeergebied van die Tsitsikamma Khoisan Village naby die Bloukransrivierbrug in die Oos-Kaap opgespoor. “Sy persoonlike besittings soos sy beursie, selfoon en ID-boekie was in die motor agtergelaat,” het Du Rand aan Maroela Media gesê.

Dempsey het glo aan depressie gely en ook verskeie briefies wat aan sy ouers gerig was in die motor gelaat.

Die polisie het daarna hul soektog op die Stormsrivier-omgewing en Bloukransrivierbrug gefokus.

“Die soektog is Maandag afgelas weens weerstoestande en om, sou daar ʼn liggaam wees, dit kans te gee om te ontbind sodat snuffelhonde dit makliker kan uitruik. Die soektog gaan weer teen die naweek hervat word.”

Maroela Media het voorheen berig ʼn soektog is op 13 April van stapel gestuur na Dempsey, ʼn nuutaangestelde onderwyser aan Hoërskool Swartland, nadat hy op 10 April die koshuis waar hy inwoon, verlaat het.

Dempsey het aan die koshuisvader genoem dat hy ʼn vriend in Bloubergstrand gaan besoek. Die skool het ʼn vermiste-persone-saak aanhangig gemaak toe hy die Maandag nie by die skool opgedaag het nie.

Daar is aanvanklik berig dat Dempsey Vrydag 10 April die laaste keer by die skool gesien is. Sy vriend, Gerhard Willemse, het intussen aan Maroela Media bevestig dat Dempsey die dag wel omstreeks 17:00 by hom opgedaag het. Hy het hom die laaste keer gesien toe Dempsey die volgende oggend vroeg sou terugry Malmesbury toe om vir daardie Maandag se klasse voor te berei. Daar word ook verneem dat sy koshuiskamer êrens oor die naweek glo ontruim is. Willemse het gesê dit was vir hom vreemd omdat Dempsey glad nie aan hom gemeld het dat hy die koshuis wil verlaat nie en opgewonde geklink het oor sy nuwe werk by die skool.

Willemse het gesê Dempsey se WhatsApp-program het die Saterdag en die Sondag gewys hy is aanlyn.

Dempsey se ouers woon in Gauteng en sy vriendin woon in die Oos-Kaap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Christanam ·

My hart gaan uit na die ouers, mens kan jou net indink die smart, onsekerheid en gebreekte harte. Mens wil nooit he so iets moet jou kinders oorkom nie. Depressie is ‘n vreeslike ding. Daar is niks so hartverskeurend om op jou kind af tekom wat selfmoord probeer pleeg het nie. Ek weet hoe dit voel ek het my kind 2 maal net betyds gekry.

scalla ·

Agter die vriendin aan in die kaap, iets moes skeef geloop het met die verhouding, sy sal mos kan se wat het gebeur of die oorsaak/rede was.

Leeutjie ·

Scalla, waar sien jy die vriendin? Ek sien hy was by ‘n vriend. Dit lyk nie of daar ‘n verhouding was nie? Of het ek iets gemis?

Marie ·

Leeutjie jy het beslis iets gemis. Lees die laaste paragraaf!!

Omgekrap... ·

Scalla, voor jy kommentaar lewer, kry jou feite reg…. moenie net jou eie afleidings maak nie. As naaste familie kan ek jou verseker jou aannames het niks met hierdie situasie te doen nie.

Hannelie ·

Sug!!!! Ek moet alweer iet sê! Ek weet nie wie die verantwoordelike hier is nie, maar…..! Die deel oor die liggaam wat eers moet ontbind is darem erg onsensitief teenoor die familie en ander geliefdes! Waarom dit nie net weglaat nie?

Omgekrap... ·

Scalla, voor jy kommentaar lewer, kry jou feite reg…. moenie net jou eie afleidings maak nie. As naaste familie kan ek jou verseker jou aannames het niks met hierdie situasie te doen nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.