Kaapse owerhede slaan toe op ‘besope’ straatrenjaers

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die Stad Kaapstad se verkeersowerhede het die afgelope week op 23 straatrenjaers toegeslaan van wie 18 glo onder die invloed van alkohol was.

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sê dit is uiters kommerwekkend dat bykans 80% van die straatrenjaers wat in hegtenis geneem is, na bewering dronk bestuur het.

“Straatwedrenne is ʼn onwettige en gevaarlike aktiwiteit. Om alkohol by die mengsel te voeg is eenvoudig misdadig en onverantwoordelik. Dit is ʼn blatante miskenning van die wet en die lewe van ander padgebruikers.”

Smith sê sewe verdagtes is Sondag gedurende straatwedrenne in Seepunt en Bellville in hegtenis geneem – vyf op aanklagte van dronkbestuur en twee vir roekelose en nalatige bestuur.

Dít nadat 14 verdagtes die vorige dag in Durbanville in hegtenis geneem is van wie 12 glo onder die invloed van alkohol was ten tyde van hul inhegtenisneming.

Smith sê hierdie syfers is kommerwekkend veral in die lig van die komende feestyd.

“Ek doen ʼn beroep op motoriste om nie selfvoldaan te raak oor hul verkeersveiligheid nie en onder geen omstandighede dronk te bestuur nie. Ek doen ook ʼn beroep op die publiek om nie besope bestuurders agter die stuurwiel van hul voertuie toe te laat nie.

“Die jaarlikse slagting op ons paaie moet end kry.”

Die Kaapstadse metropolisie het die afgelope week 81 verdagtes in hegtenis geneem op verskeie aanklagte, waaronder die besit van dwelms.

Altesaam 2 769 verkeersboetes is ook gedurende die tydperk uitgereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Persheks Adri ·

Maak ‘n voorbeeld van hulle aangesien hulle dronk wil bestuur en jaag! Drank en vinnige karre werk nie saam nie punt.

Dis sulke mense wat ons wet gehoorsame burgers se dood veroorsaak!

Suzette ·

Die oortreders is in hegtenis geneem – wat gebeur nou met hulle? ‘n Ligte boetetjie of ‘n vingertik gaan niks help nie.

LANA is ELANè ·

Ek het ‘n werklik aversie in mense wat nie remme het as hulle wil suip nie, en beslis nog ‘n groter een aan mense wat besope agter hul kar se stuurwiel inklim en dan skielik bemagtig voel deur die perdekrag onder die enjinkap. Nee wat, sluit hulle almal toe en smyt asb die sleutels weg!! Dronk mense is vieslik!

Sarel ·

Termiet nee nie voertuie vernietig nie.Konfiskeer en verkoop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.