Kaapse padwaardigheidsveldtog: Kommer oor busse

Foto ter illustrasie. (Foto: Jake Givens/Unsplash)

ʼn Padwaardigheidsveldtog wat vroeër vandeesmaand deur die stad Kaapstad van stapel gestuur is, het kommer laat ontstaan oor die padwaardigheid van voertuie nadat talle busse wat getoets is, nie as padwaardig beskou kan word nie.

Meer as 800 voertuie is reeds getoets. “Ten einde ons paaie oor die feesseisoen veiliger te maak, is 805 voertuie soos busse, minibustaxi’s en sedans se padwaardigheid getoets,” het JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, gesê.

Uit die voertuie wat getoets is, het 200 nie die paal gehaal nie, waarvan 77 busse en midibusse was.

Volgens Smith is die aantal busse wat die toets gefaal het veral kommerwekkend omdat hierdie voertuie ʼn groot aantal pendelaars of gesinne vervoer.

Nietemin is die slaagsyfer vir al die voertuie tot dusver 74%.

Verkeersdienste het altesaam 5 811 oortredings die afgelope tyd by voertuigkontrolepunte aangeteken. Die hoofoortredings sluit in 906 ongelisensieerde motors, 904 gevalle waar ʼn geldige klaringsertifikaat nie vertoon is nie en 793 vir die versuim om ’n veiligheidsgordel te dra.

“Bestuurders is beboet vir meer as 30 verskillende oortredings, wat wissel van die bogenoemde tot parkeringmisdrywe en die oorlaai van voertuie.

“Motoriste word versoek om hulle voertuie se padwaardigheid na te gaan voordat hulle ʼn lang reis aanpak. Dit kan jou en die lewens van jou geliefdes red,” sê Smith.

Die veldtog sal na verwagting Donderdag eindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.