Kaapse patrolleerder verorber onkruid

Die nuwe stroper is “die Kaapse skopgraaf” gedoop. (Foto: Verskaf)

Die Kaapstad-metro het ʼn nuwe lid wat die Zandvlei-vleiland gaan patrolleer om onkruid iets van die verlede te maak.

Die metro het ʼn gespesialiseerde stroper laat maak om onkruid uit die water te verwyder.

Volgens Geordin Hill-Lewis, Kaapstad se burgemeester, gaan dié toerusting ʼn groot rol speel om mettertyd die waterkwaliteit in die gebied te verbeter.

Die nuwe stroper is vandeesweek “die Kaapse skopgraaf” gedoop toe Hill-Lewis ʼn bottel sjampanje gebreek het voor die eerste vaart.

Hill-Lewis sê hierdie stroper is die eerste van drie nuwe gespesialiseerde stropers wat die metro teen die einde van 2025 in diens sal hê.

“ʼn Onkruidstroper is ʼn gespesialiseerde vaartuig met lemme onderaan om die onkruid te sny,” sê hy.

“Dit is toegerus om nie net die onkruid te sny nie, maar dit ook te versamel en te verwyder voordat dit die vlei heeltemal oorneem.”

ʼn Onkruidstroper was veral in die Zandvlei-vleiland nodig om aandag te gee aan die opeenhoping van onkruid en alge te verwyder wat mettertyd aangewas het.

Histories het owerhede daarop gefokus om Stuckenia pectinata of sagofonteinonkruid in Zandvlei uit te roei. Meer onlangs was daar ʼn verskuiwing dat Ruppia spiralis, ook bekend as “spiral tasselweed”, eerder uitgeroei moet word.

Die onkruidstroper gaan ook nou drywende draadvormige algmatte wat in die somermaande op die wateroppervlak voorkom, verwyder.

“Dit verbeter nie net die gesondheid van die vleiland nie, maar maak die vlei meer toeganklik en veiliger vir vaartuie en die gemeenskappe wat van die vlei gebruik maak,” sê Hill-Lewis.

Hy sê waar die omgewing gesond is, is die ekonomie ook gesond en sterk genoeg om almal in Kaapstad te dien.

“Die aankoms van die onkruidstroper is ʼn belangrike mylpaal in ons visie vir skoner en omgewingsgesonde waterweë.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Tewis ·

Stuur asb vir Hartbeespoort die plane want hulle benodig BAIE DRINGEND so its.

Kabous ·

Hoop hy sal die werk kan doen en land nie ook op n veiling wat julle vandag het met sleutels wat weg is op n 2020 trok en dan op n veiling verkoop word nie.

Johan ·

Hartebeespoort sal in die volgende 250 jaar nooit skoon kom nie. Onthou, die misdaadsindikate in Waterwese ontvang geld om die hiasinte te “beheer”……en sou die dam ooit skoon kom, dan droog die geld op! (Follow the money)

JohanR ·

Kan die stroper nie oor Lithuli Huis gaan rol, terwyl daar daar groot vergadering gehou word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.