Kaapse pelsrobbe trek aandag

(Foto: Stranded Marine Animal Rescue Team/Facebook)

Die organisasie Stranded Marine Animal Rescue Team (Smart) op Mosselbaai sê hy het die afgelope ruk talle oproepe ontvang van jong robbe op strande.

Sommige van die robbe lyk swak en maer, wat tot groot kommer onder mense lei oor die robbe se veiligheid en toestand.

Smart sê die jong robbe drink nie meer aan hul ma’s nie en verlaat toenemend die kolonie op Robeiland om self na kos te soek.

“Hulle is nog jonk en onervare en soms waag hulle dit te ver van die eiland. Hulle swem dan na ʼn strand waar hulle rus. Sommiges is effe maer, waarskynlik omdat hulle nog leer om te jag en wanneer hulle uitswem is hulle baie moeg en moet rus,” het die organisasie in ʼn verklaring gesê.

“Hulle lê só stil en ontspanne dat dit lyk of hulle dood is. Hoewel hulle steeds betreklik klein en die publiek hulle as baie oulik beskou, moet hulle nie geflous word nie. Hulle kan lelik byt as iemand aan hulle probeer vat of hulle optel.”

(Foto: Stranded Marine Animal Rescue Team/Facebook)

Die organisasie het mense gevra om te probeer seker maak dat die rob nie beseer of siek is nie en hulle te probeer dophou, maar so lank moontlik toe te laat om te rus.

Mense word ook gevra om nie die robbe te probeer voer of nat te maak nie.

Smart sê in November en Desember word baie robbe gebore en in gure weer of groot deinings kan hulle dalk uitspoel. Die kleintjies se pelse blink reeds en hulle lyk baie oulik, maar die robwelpies is steeds baie kwesbaar en moet so gou moontlik weer by hul ma’s uitkom.

(Foto: Stranded Marine Animal Rescue Team/Facebook)

Smart sê robbe kan gedeeltes van hul breine “afskakel” wat hulle toelaat om in die see te rus of te slaap. Wanneer hulle dít doen, roei hulle met een vin. Soms steek net ʼn voorvin bo die water uit en lê die robbe doodstil in een plek. Dit laat mense vermoed die rob is moontlik in iets verstrengel.

“Hulle is egter nie besig om te verdrink of te waai nie, hulle knip net ʼn uiltjie.”

Smart het ʼn beroep op mense gedoen om die organisasie dadelik te kontak sou hulle enige robbe, groot of klein en lewend of dood, op die strand aantref.

(Foto: Stranded Marine Animal Rescue Team/Facebook)

“Ons opgeleide vrywilligers weet wat om te doen, wie om te kontak en waarheen om te gaan. Moet asseblief nie die robbe probeer hanteer nie, selfs al is hulle klein, omdat hulle moontlik siektes kan hê.

“Smart sal eerder op ʼn vals alarm reageer as om te laat op te daag om ʼn dier in nood te help.”

Smart is ʼn organisasie wat hom beywer vir die versorging van gestrande mariene lewe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pieter ·

Is daar nog vis vir hulle om te eet want die vis word mos by die tonne genet. Die chinese en IJ maak mos soos hulle wil. Ons sit met n sirkus van n regering wat nie eers om gee oor mense se lewens nie wat nog van diere sin.

Herman ·

Ek stem saam. Die hulpbronne word uitgeput deur net dit wat jy noem of daars iets in die water wat die vis laat trek of vrek.

Colombo ·

Die robbe het deel aan die uitputting van die vislewe.Laat die natuur sy gang gaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.