Kaapse pikkewyne kry nuwe neste

Die kunsmatige nesstrukture. (Foto: SANParke/Twitter)

Die Boulder-pikkewynkolonie in die Tafelberg Nasionale Park in Kaapstad het onlangs 58 kunsmatige broeikaste ontvang nadat ʼn ontwikkelingsprojek van stapel gestuur is om die broeitoestande vir Afrika-pikkewyne te verbeter.

Gegewe die afname in dié pikkewynbevolking word die kunsmatige nesstrukture as ʼn nuttige bewaringsintervensie beskou en sal dit kolonies help wat gereeld aan verskeie omgewingsfaktore blootgestel word.

“Die nesstrukture bied veiligheid teen roofdiere en beperk blootstelling aan ongunstige weerstoestande soos uiterste hitte en swaar reën wat dikwels tot oorstroming lei,” sê Alison Kock, marinebioloog by die Kaapse navorsingsentrum.

“Die bevolking van Afrika-pikkewyne neem af en verskillende intervensies is in plek om dié tekort aan te vul. Daar word geglo dat die verskaffing van kunsmatige neste die broeisukses van die pikkewyne sal verbeter en sodoende die totale bevolking van die Afrika-pikkewyn te verhoog.”

ʼn Prototipe van dié neste is die eerste keer in 2003 aan die Boulder-pikkewyne bekendgestel en 62 van die kaste is aanvanklik geïnstalleer. Daar was egter bekommernisse oor die grootte van die kaste, aangesien dit nie genoeg beskerming gebied het nie. Daar was oor die jare verskeie aanpassings tot die prototipe gemaak om die doeltreffendheid te verbeter.

Die nuutste ontwerp is een wat gemaak is van ʼn geotekstielstof wat gegrond is op die mates van ʼn natuurlik nes en omgewingsvriendelik is.

Hierdie projek word voortgesit en sal noukeurig gemonitor word om die doeltreffendheid van die ontwerp en nessukses te bepaal. Die uitkomste hiervan sal bepaal of die nuwe prototipe in toekomstige ontwerpe vervat sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cecilia ·

Ag moedertjie tog. D klein “predikante” sal hul sommer opvreet. Ons was ook in d Kaap by Simonstad swem hul sommer tussen jou bene deur

Leon ·

Miskien is dit juis die probleem……..iets of iemand vreet hulle op.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.