Kaapse polisie arresteer meer as 5 000 tydens die feestyd

Die Stad Kaapstad se verkeerspolisie het in Desember altesaam 5 105 mense in hegtenis geneem en meer as 350 000 boetes uitgereik.

Die Stad Kaapstad het Maandag bekend gemaak dat altesaam 4 745 inhegtenisnemings gedoen is vir uitstaande lasbriewe, 282 vir bestuur onder die invloed, 41 vir roekelose en nalatige bestuur, twee vir die besit van dwelms, twee vir die besit van ʼn vuurwapen en 33 vir ander aanklagte.

ʼn Totaal van 13 028 lasbriewe ter waarde van meer as R17 miljoen is ook tydens Desember uitgereik. Wetstoepassers het op 343 voertuie en 880 selfone beslag gelê en 360 626 boetes vir verskeie misdrywe uitgereik.

Volgens JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, was Desember ʼn baie besige tydperk vir die verkeerspolisie. “Benewens dié groot getal misdrywe moes verkeerspersoneel ook nog die verkeervloei beheer en ʼn ogie hou oor paaie wat in en rondom die stad gesluit is. Hulle moes ook noukeurig die strande monitor,” sê Smith.

Smith sê diegene wat in hegtenis geneem is vir uitstaande lasbriewe was reeds voor die vakansietyd gewaarsku om hul sake in orde te kry. “Ek hoop dit sal vir hulle ʼn les wees. Betaal eerder in die toekoms jou boetes betyds, of nog beter, gehoorsaam die wet uit die staanspoor,” meen Smith.

Daar is ook tussen 1 Desember en 3 Januarie beslag gelê op altesaam 11 944 bottels alkohol (sowat 6 800 liter) op Kaapstadse strande. Sowat 53 persent van die beslagleggings het op strande in die weste van Kaapstad plaasgevind, wat strek van Muizenberg tot Kampsbaai en Clifton.

Volgens Smith bly die aantal beslagleggings op alkohol ná die feestyd in Kaapstad steeds toeneem. “Ons berei onsself voor vir die viering van matriekuitslae wat nog voorlê. Strande is gewoonlik gewilde plekke vir partytjies wat dan gepaard gaan met hoë alkoholverbruik.”

Smith doen ʼn beroep op jong mense om verantwoordelik partytjie te hou en hulle te weerhou van enigiets wat hulself of ander in gevaar kan stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sdl ·

Tyd mors. Geen regstelsel. Wettelose land.
Man op parool en verkrag vrou en dogter.
Mense julle moet die minister van polisie wie ookal dagvaar. Kriminele word links en regs borg gegee.

Heksie ·

Wetstoepassers spring ook net aan die werk oor die feesseisoen, gedurende die res van die jaar laat hulle alles en almal maar net began … en misdaad vier hooggety in ons land, terwyl dié sulkes wat ons moet beskerm en die WET toepas, in hul voertuie sit en slaap.

Johan ·

Spietkop = geldmaakstorie. Hulle voel n veer vir veiligheid. Hulle reëls verander byna weekliks, en dit verander stilletjies en altyd so dat hulle finansiëel voordeel trek daaruit. Wettige rowery.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.