Kaapse prokureur skuldig wat POF uit miljoene swendel

(Argieffoto: Unsplash)

ʼn Kaapstadse prokureur is skuldig bevind aan diefstal en van die rol geskrap nadat hy die miljoene rande van die Padongelukkefonds (POF) in sy sak gesteek het.

Eslin Frank Meyer (64) is skuldig bevind daaraan dat hy sowat R6 miljoen van die fonds vir homself toegeëien het, het Zinzi Hani, ʼn woordvoerder van die Valke, gesê.

Meyer is in 2014 in hegtenis geneem nadat die Kaapstadse hooggeregshof reeds in Februarie 2010 beveel het dat hy van die prokureursrol geskrap word.

Hy het sy eie prokureursfirma in Mitchells Plain en Strand bedryf en het volgens die Valke tussen 2005 en 2010 verskeie POF-eise namens kliënte hanteer.

Die Valke se ondersoek het aan die lig gebring dat hy in sommige gevalle die volle opbrengs van uitbetalings in sy sak gesteek het. In ander gevalle het hy ʼn vals betalingsbewys aan kliënte voorgehou en slegs ʼn gedeelte van die eis aan hulle oorbetaal.

Teen November 2013 is meer as 60 eise by die getrouheidsfonds ingedien en klagte by die Prokureursvereniging aanhangig gemaak, het Hani gesê. ʼn Diefstalondersoek teen hom is daarna van stapel gestuur.

Meyer word na verwagting later vandeesmaand in die Bellville-handelshof gevonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

antieke antie ·

Ek wonder hoeveel skelms bevark mense by compensation fund

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.