Kaapse seebeskermers behaal sukses

Die Kaapse eenheid vir mariene beskerming staan reeds vroeg in die jaar bont om die seelewe aan die Skiereiland se kus te beskerm. Foto: Verskaf

Lede van die Stad Kaapstad se eenheid vir mariene en omgewingswetstoepassing het hul eerste suksesse van die nuwe jaar behaal toe hulle ses verdagtes naby Kalkbaai in hegtenis geneem het.

Die eenheid is in 2013 opgerig om die seelewe aan die Moederstad se 300 km lange kuslyn te beskerm.

Beamptes van die eenheid was Donderdagoggend ter see op patrollie toe hulle ʼn wenk van hul kollegas aan land ontvang en ses verdagtes op die rotse op ʼn afgesonderde plek aan die kus naby Kalkbaai vaskeer.

Die verdagtes het toe reeds na bewering 238 klipmossels, 42 alikreukels en 590 swart mossels uitgehaal.

Hulle sal aangekla word ingevolge die Wet op Mariene en Lewende Hulpbronne en is na die polisiestasie in Muizenberg gebring.

Maandag het beamptes ʼn 34-jarige verdagte van Manenberg op die Kaapse Vlakte aangekeer wat na bewering 925 alikreukels ook in Kalkbaai se omgewing gestroop het. Die vorige dag het stropers een van hul drawwers alleen gelaat met hul oes van 259 stuks perlemoen.

Die eenheid het tydens die laaste drie maande van verlede jaar 19 verdagtes aangekeer en beslag gelê op amper 5 000 stuks perlemoen, alikreukels, mossels, seeslakke en klipmossels.

Rdh. JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het die wetstoepassers geloof vir hul toewyding en harde werk. “Wêreldwyd word seelewe bedreig deur stropery, oorbevissing en rommel wat in die see gestort word,” sê hy. “As ons toelaat dat die see onverhinderd gestroop word, sal daar binnekort niks oor wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

humor ·

Uiteindelik. Vir n baie lang periode het ons niks hiervan gehoor nie. Talle male hoor ons maar net hoe beslag gele was op grootskaalse verwerkte perlemoen ens. Was al oortuig dat ernstige korrupsie op hierdie gebied gepleeg word.

A Mac ·

Verskoon asseblief my oningeligtheid (plein Afrikaans – domgeit), maar die alikreukel, presies wat is dit en hoe eet mens dit? As dit seekos is, hoekom sien mens, ek in elk geval, dit nie op seekos restaurante se spyskaarte nie? Of word dit iets anders as dit gaar gemaak word? Ek worstel met dieselfde vrae oor perlemoen.

Johan ·

Alikreukels is see slakke .

perlemoen word meestal gebruik in sushi..

Johnnie ·

Dis werklik uitstaande werk ons is almal baie trots op hulle hou so aan met die goeie werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.