Kaapse sprinkaanplaag ʼn ‘ramp’

Die swerms teister al vir ‘n geruime tyd boere in die land. (Foto: Barry Naude)

Die DA versoek nou dat die Wes-, Oos- en Noord-Kaap, asook die Vrystaat, tot rampgebiede verklaar word weens die reusesprinkaanplaag wat dele van dié provinsies teister.

Die DA meen dat die huidige stand van sake dié besluit sal regverdig, aangesien boere en gemeenskappe in die provinsies desperaat is vir hulp om die swerms af te weer.

Noko Masipa, die DA se lid in die portefeuljekomitee oor landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê sy het in ʼn skrywe aan Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, versoek dat sy haar eweknie dr. Nkosazana Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, inspan om die provinsies tot rampgebiede te verklaar.

“Sodra hierdie gebiede tot rampgebiede verklaar is, sal Didiza ʼn begroting kan saamstel en ʼn rekwisisie by die nasionale tesourie kan indien vir finansiering om die sprinkaanplaag te bekamp,” sê sy.

“Dít sal verhoed dat die plaag na naburige provinsies versprei.”

Boere en plaaslike gemeenskappe gaan die afgelope paar maande gebuk onder swerms sprinkane wat chaos op plase en landelike gebiede veroorsaak. Boonop is talle boere genoop om op eie onkoste die swerms te probeer bekamp voordat al hul voervoorrade opgevreet word.

“Boere ervaar talle uitdagings, waaronder die aflewering van beskermende klere en die laat verskaffing van voorgeskrewe giftige chemikalieë. Dít terwyl bewerings die ronde doen dat grondbespuitingspanne nie deur die departement vergoed word nie,” sê Masipa.

Die departement van landbou in die Wes-Kaap het reeds vroeër onderneem om R5 miljoen beskikbaar te stel om die sprinkaanplaag in die provinsie te help pak.

Masipa voer egter aan dat ʼn meer gefokusde benadering benodig gaan word om die uitbreiding van die sprinkaanplaag te bekamp.

“Ons moet leer uit die foute van ander lande wat gesukkel het om die swerms in hul onderskeie lande te beheer.

“Dit is nou die tyd dat rampe in die geraakte gebiede verklaar word sodat die nodige hulpfondse beskikbaar gestel word om die plaag in bedwang te bring.”

Die DA meen dat die gebiede vir drie maande tot ʼn rampgebied verklaar moet word, gevolg deur maandelikse hersienings van die stand van sake.

Gedurende die driemaandetydperk moet die departement grotendeels fokus om ʼn belangegroepforum te vestig wat die LUR’e van die vier provinsies insluit, asook data beskikbaar stel rakende die potensiële skade wat sulke plae kan veroorsaak om doeltreffende toesig deur amptenare moontlik te maak. Daar moet ook beslissend op sprinkane, in alle vorme, opgetree word sodat die bevolkingsgroepe in toom gehou kan word.

Volgens Masipa is dit belangrik dat die departement gebruik maak van satelliettegnologie om die migrasiepatrone van sprinkane te ontleed.

“Die DA ondersteun steeds die volgehoue werksverhouding tussen die departemente en belanghebbendes in die private sektor in die bekamping van hierdie probleem,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kokerboom ·

DA met die kaderregering aan bewind staan jul ‘n skrale kans tot sukses

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.