Kaapse strande weer oop ná rioolstorting

Mense is gemaan om nie die strande te besoek nie, maar dié is weer oopgestel. (Foto: Dr. Zahid Badroodien/Twitter)

Strande en getypoele wat gewild onder Kaapse inwoners is, is Donderdag weer oopgestel nadat dit Saterdag gesluit is weens twee rioolpompe wat in die omgewing onklaar geraak het.

Dié breekskade het veroorsaak dat rioolwater die afvalpyplynstasie oorstroom het en spanne moes noodgedwonge riool in die see stort.

Die Stad Kaapstad sê die Kampsbaaistrand, Glenstrand en die Maidens Cove-getypoele is eindelik weer oopgestel vir besoekers.

“Die resultate van die jongste watergehaltetoetse het bevestig dat hierdie gewilde ontspanningsgeriewe aan die kus weer veilig is om deur lede van die publiek gebruik te word,” sê die Stad.

Mense is die afgelope naweek gemaan om nie die strande te besoek nie nadat die departement van sanitasie genoop was om die rioolwater, wat die afvalpyplynstasie heeltemal oorstroom het, in die see te stort.

Eddie Andrews, onderburgemeester en burgemeesterskomiteelid vir ruimtebeplanning en omgewing, het by navraag aan Maroela Media gesê dat die see onveilig was vir strandgangers ná die storting.

“Die Stad het die geraakte strande gesluit vir enige swem of branderplankryery om die natuurlike prosesse van die see – die getybeweging, golfaksie en wind – toe te laat om die besmette water vinnig te assimileer.”

Sand wat weens die storting besmet is, is ook intussen van die strand af verwyder.

Volgens Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, is al twee pompe wat onklaar geraak het die naweek reeds tydelik vervang.

“Die eerste pomp is reeds vervang, terwyl die departement nog wag op onderdele vir die tweede pomp.”

Nadat die gebreekte pompe chaos veroorsaak het, het die departement onderneem om voorts te verseker dat voorkomende instandhouding voorkeur geniet om voorvalle soos dié te voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Waarnemer ·

En julle glo regtig die twak….riool word oral in SA in riviere en in die see in gepomp…dit is mos hoe dit werk in ons nuwe SA!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.