Kaapse universiteit wil inenting verplig

Die Universiteit van Kaapstad. (Foto: UCT/Facebook)

ʼn Voorstel om inentings teen Covid-19 by die Universiteit van Kaapstad (UK) verpligtend te maak, is deur meer as 130 professore en akademici gesteun.

Die UK het intussen ʼn opname aan studente en personeel gestuur om hul mening oor dié saak te bekom.

Luidens die voorstel sal ʼn bewys van inenting as voorvereiste dien vir elke student wat volgende jaar vir studie aan die UK wil registreer.

Hierdie reëling sal ook personeellede geld, aangesien die universiteit van mening is dat personeellede nie daarsonder hul pligte behoorlik kan uitvoer nie.

Die universiteit vra wel nou eers studente se mening voordat hulle dié besluit implementeer.

“Hoewel ons omvattend oor hierdie saak gedebatteer het, het ons tot die gevolgtrekking gekom dat ons nie ʼn standpunt oor verpligte inentings kan inneem voordat ons die siening van die studenteraad gekry het nie.

“Ons versoek dus dat alle studente en belanghebbende personeel die opname sal voltooi sodat ons data en menings kan inwin om aan die senaat voor te lê wanneer hulle dié mosie Vrydag oorweeg,” het die UK Maandag in ʼn verklaring gesê.

Studente en personeel het tot Donderdag om 13:00 kans om die opname te voltooi.

Die werkgewersorganisasie National Employers Association of South Africa (Neasa), het egter Dinsdag gewaarsku dat werkgewers versigtig moet wees om ʼn kombersbenadering ten opsigte van inentings te volg.

“Dit is moeilik om ʼn situasie voor te stel waar ʼn werkgewer suksesvol kan bewys dat hy nié sy oningeënte werknemers kon akkommodeer nie.

“Dit sal veral moeilik wees in die lig van die vergunnings wat werkgewers reeds sedert die aanvang van die pandemie vir sommige werknemers gemaak het,” sê Jaco Swart, Neasa se nasionale bestuurder.

Luidens die bepalings oor beroepsgesondheid en veiligheid wat in Junie vanjaar deur die departement van arbeid en indiensneming in die Staatskoerant aangekondig is, mag werkgewers ʼn beleid instel wat vir verpligte inentings teen Covid-19 voorsiening maak.

Daar moet egter eers ʼn risiko-ontleding ten aansien van elke werksplek en sy bedrywighede asook elke werknemer gedoen word.

“Ons bevind onsself op ʼn onbekende terrein en werkgewers word aangeraai om uiters versigtig met sodanige beleid te werk te gaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.