Kaapse vullisdepot gesluit weens Covid-19

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

’n Vullisdepot in Woodstock, Kaapstad, moes sy deure noodgedwonge sluit nadat ’n werknemer positief vir die nuwe koronavirus getoets het.

Die Stad Kaapstad het Maandag in ’n verklaring gesê die betrokke vullisdepot sal vir die volgende drie dae gesluit bly sodat die fasiliteit en sy voertuie ontsmet kan word.

Luidens die verklaring is alle persone wat moontlik in kontak met die betrokke werknemer kon kom, reeds nagespeur en in selfisolasie geplaas.

Die munisipaliteit waarsku inwoners in die omgewing van Woodstock dat hulle moontlik ’n vertraging in vullisverwyderingsdienste gaan ervaar as gevolg van die vullisdepot wat tydelik gesluit moes word. Die inwoners word versoek om hul vullis vir tyd en wyl in hul erf te hou totdat dit verwyder kan word.

Altesaam 9 294 bevestigde gevalle Covid-19 is teen vanoggend in die Wes-Kaap aangemeld, met 149 pasiënte wat reeds weens die virus omgekom het.

Volgens die Stad Kaapstad was dit net ’n kwessie van tyd voordat veiligheidsmaatreëls vir die koronavirus ’n invloed op noodsaaklike dienslewering sou hê.

“Die Stad het ’n gebeurlikheidsplan gereed om te verseker dat bedrywighede en dienslewering so ver as moontlik voortgaan terwyl die gesondheid en veiligheid van ons personeel en die publiek verseker word,” lui die verklaring.

Die Stad onderneem ook om die agterstand in vullisverwydering in die omgewing van Woodstock so gou as moontlik te hanteer.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anel ·

Dit raak nou regtig lagwekkend. Mense gee nie om dat ander metTB, Vigs en ander meer aansteklike siektes naby of langs hulle kom if aan hulle vat nie, selfs nie toe mense nig verkoue mag gekry het, het niemand om gegee nie, lande is nie toe gemaak nie, mense is nie opgesluit nie. Nou is dit ‘n misdaad om siek te word. Met alles wat so ontsmet word gaan ons liggame in skok gaan as hulle net die woord kiem hoor. Asseblief, kom by mense en gaan aan met julle lewens. Mens gaan nie net sommer hierdie virus kry en doodgaan nie, net as jy dalk enige ander onderliggende siekte het, maar nie as jy gesond is nie. Die media en regerings het dit reggekry om massa histerie te bewerkstellig en vrees by mense in te boesem. En vir wat, en ten koste van wat?

johanf ·

Al wat hul kan doen is om die stropers uit te hou, wat in elk geval al so imuun is teen al daai vrot kosse ens……

Anoniem ·

Die effek van inperking, mense wat hulle werk verloor, vuisvoos ekonomie, geen koue bier, geen sigaret, kluisenaars bestaan en tonne meer is ook nie ‘n grap nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.