Kaapse water ‘veilig’ om te drink

(Argieffoto: pixabay)

Die Stad Kaapstad sê die voorsorgwaarskuwing oor water wat vroeër vir die Atlantiese kusgebied uitgereik is, is opgehef nadat omvattende toetse gewys het dit hou geen gesondheidsgevaar in nie.

“Die water is veilig om te drink,” lui ʼn verklaring van die stad.

Luidens die verklaring is ʼn moontlike rede vir ʼn toename in klagtes oor die water spore van 2-metielisoborneol (MIB). Dit is ʼn samestelling met geen gesondheidsuitwerking nie. Dit word geproduseer deur sekere soorte alge, wat soms in die stad se damme voorkom.

Die stad sê dit is moontlik dat reën vroeër vandeesweek algedeeltjies tussen die Woodheaddam en ʼn oordragtonnel losgemaak het. Verpoeierde geaktiveerde koolstof word gereeld gebruik om smake en reuke te verwyder, maar in dié geval is geen reuk of smaak by die wateraanleg opgemerk nie en ʼn laboratoriumontleding moes gedoen word om die voorkoms van MIB te bevestig.

“Sommige inwoners se palette is egter baie sensitief vir selfs mikroskopiese veranderinge in die samestelling van die water.”

Die stad het verskoning gevra vir enige ongerief wat veroorsaak is terwyl die moontlikheid van enige nienakoming ondersoek is.

Van die gebiede wat geraak is, sluit in Kampsbaai, Seepunt en Fresnaye.

“Inwoners word verseker dat elke moontlike poging aangewend is om die ondersoek te bespoedig en die situasie te normaliseer. Sommige van die toetsuitslae duur soms tot 24 uur. Dit was in dié geval ook nodig om monsters oor ʼn groot gebied te neem, voor die versekering gegee kon word dat die water veilig is om te drink.”

Inwoners wat vermoed daar is fout met hul drinkwater, kan die stad by 0860 103 089 bel sodat ondersoek so gou moontlik ingestel kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Corne123 ·

Hoefeel het dit die belaating betaaler gekos nou weer vir iets wat nooit eers moes wees nie dit is belaglik verby

annie ·

Die DA leer mooi vinnig by die ANC. Arrogansie is nie die beste persoonlikheidkenmerk op diè plannet nie. Die groot brand word ook afgemaak as doodgewoon. Bye bye DA.

akkedismis ·

Moenie die DA kritiseer ,voordat julle nie tyd in n Ander Munispaliteit gebly het nie. Die ander politieke munisipaliteite is USELESS !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.