Kaapse wetstoepassers trek talle vas

Foto: Verskaf

Wetstoepassingsagentskappe in Kaapstad het die afgelope week meer as 142 verdagtes in hegtenis geneem, asook talle beslagleggings gedoen en boetes uitgereik.

Volgens JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, is daar ook meer as 70 000 boetes uitgereik.

Die Kaapstadse verkeersdienste het 74 mense in hegtenis geneem, onder wie 29 verdagtes vir dronkbestuur. Altesaam 158 voertuie is geskut en daar is 87 selfone afgeneem. Meer as 63 000 boetes is uitgereik.

Die metropolisie het 55 verdagtes in hegtenis geneem vir onder meer dwelmbesit, huishoudelike geweld en bedrog. Daar is ook meer as 3 700 boetes uitgereik. Een van die verdagtes wat in hegtenis geneem is, is ʼn 29-jarige vrou wat glo onder die invloed van alkohol bestuur het en met haar motor teen ʼn metropolisievoertuig in Mfuleni gebots het.

Smith het sy kommer uitgespreek oor die stand van sake op die stad se paaie. “Week ná week sien ons dat al meer mense in hegtenis geneem word vir bestuur onder die invloed van alkohol asook roekelose en nalatige bestuur.

“Aangesien dit duidelik is dat daar nie gewilliglik ʼn gedragsverandering gaan plaasvind nie, moet daar verseker word dat skuldigbevindings vinniger plaasvind en swaarder vonnisse opgelê word,” aldus Smith.

Die stad se wetstoepassingsdepartement het 12 verdagtes in hegtenis geneem en meer as 3 400 boetes uitgereik.

Polisiebeamptes wat Sondagoggend patrollies in Nyanga gedoen het, het ʼn motor met drie insittendes van die pad af getrek en deursoek. Een van die insittendes het weggehardloop, maar beamptes het hom agternagesit en vasgetrek. Die 25-jarige verdagte was in besit van ʼn 9 mm-pistool en ammunisie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Wel dis eenvoudig…die Polisie het hulself ons almal se veihand verklaar met hul toepasing van die “covid” regulasies. Hul sal eenvoudig hul beeld moet herstel van n organiesasie wat op die burgers se nekke trap terug na die beskermers van vryheid en geregtigheid. Kyk bietjie hoe reageer en praat die kinders oor die polisie x100 is hoe die ouers voel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.