Kaapstad bekommerd oor die vergiftiging van bome

Bome vrek na vergiftiging (Foto: Verskaf)

Die Stad Kaapstad is bekommerd oor die toename in die vergiftiging van groot bloekombome in Wesselsweg, Kenilworth, in Kaapstad.

Die stad se departement van parke en ontspanning het vroeër vandeesmaand bevestig dat ’n bloekomboom wat tussen 75 en 100 jaar oud kan wees, vergiftig is. Gate is in die boom se bas geboor en onkruiddoder in die gate ingespuit. ’n Blou vlek is op die bas nagelaat.

Dié vergiftigde boom wat 25 m lank en 16 m breed is, is tans besig om te vrek. Die stad het gesê hulle is verplig om die boom te verwyder omdat dit ’n gevaar vir die omgewing kan inhou.

In Oktober verlede jaar het nege bloekombome langs Racecourse-weg in Durbanville deurgeloop. Verskeie vergiftigingsmetodes is gebruik vir die toediening van onkruiddoder. Onkruiddoder is onder meer op die grond rondom die boom gespuit om klein poeletjies te vorm. Onkruiddoder is ook direk aan bome toegedien.

Die stad beskou die opsetlike vergiftiging van bome as ’n onwettige, strafregtelike aktiwiteit en het reeds ’n saak teen diegene wat daarvoor verantwoordelik is by die polisie aanhangig gemaak.

’n Blou vlek is op die bas nagelaat (Foto: Verskaf)

Die departement van ontspanning en parke vermoed daar kan verskillende motiewe wees waarom die bome vergiftig word. Van dié redes sluit in dat die val van blare en saadkapsules op mense se erwe steurend vir die inwoners kan wees. Partykeer loop inwoners die risiko dat boomtakke of die hele boom kan omval. Bome word ook soms verwyder wanneer hulle in die pad van ontwikkeling staan.

Volgens Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, is dit op die oog af moeilik om te bepaal of ’n boom wel vergiftig is. “Ons ry verby en neem nie altyd kennis van die bome langs die pad nie. Ons vermoed dat iets verkeerd is eers wanneer die boom se takke begin kwyn,” vertel Badroodien.

Hy beskou die opsetlike vernietiging van bome as kommerwekkend. “Afgesien van die estetiese waarde, hou bome talle voordele vir die omgewing in. Dit verskaf skaduwee aan mense, bied ’n veilige skuiling vir voëls en neem koolstofdioksied op. Bome kan jou eiendomswaarde tot 15% opstoot.”

Bloekombome, afkomstig van die Eucalyptus-spesie, is regoor Kenilworth geplant. Dit is ook oral in die Wes-Kaap as straat- en parkeerbome geplant.

Die stad is bekommerd oor die vergiftiging van bome (Foto: Verskaf)

Badroodien sê hulle is dankbaar vir die lede van die gemeenskap wat reeds voorvalle van vergiftiging of vernietiging van bome aangemeld het. “Ons kan vining optree indien die gemeenskap saamwerk om die vernietiging, vandalisme en vergiftiging van bome te bekamp. Die beskerming van ons natuurlike erfenis en omgewing is ʼn belegging vir ons toekomstige geslagte. Die versorging van bome sê ook baie oor ons respek vir die natuur.”

Lede van die gemeenskap wat enige inligting het oor die vergiftiging van die bome, kan ’n e-pos stuur na [email protected] of stadsbeamptes bel by 021 480 7700.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Leon ·

Volgens my is dit ‘n indringer boom/plant afkomstig van Australië af, so moet uitgeroei word en liewers met inheemse bome vervang word

Dirk van der Merwe ·

Ek stem heelhartig saam! En die bome ‘suip water ‘teenoor inheemse bome–en dis reeds ‘n wesenlike probleem in die Wes-Kaap .

Snotklap ·

Ok Leon. Gaan plant jy n nuwe boom en sodra hy so groot is soos die een wat jy wil uitroei dan verwyder jy die ou een.

PJC ·

Hierdie is bloekombome en nie gombome nie. Iewers loop ń siek ou rond want hierdie bome is nie naby iemand se erf nie. My eggenote het al verskeie fotos geneem van die laning bloekombome langs Racecourseweg waneer die son reg is. Dit maak ń baie mooi foto.

Attie ·

Stem saam, dis bloekombome. Al so deel van ons landskap geword.

Jean ·

Seker weer ‘n skelm ontwikkelaar wat met onderduimsheid besig is.

Se maar net ·

Ag Vader tog!!
Wat is volgende? Nou mort mens bome ook onder kamera monitors sit….
Ek sien hul noem nie dat bome dalk ook vergiftig is vir hul hout nie… ek se maar net……

Patat ·

Roei al die bloekombome uit. Dis uitheems en dan sal ons minder water tekorte hê. Hul put die ondergrondse water uit.

Dirk van der Merwe ·

Korrek. Dis reeds lankal bewys en hulle wortelstelsel is van so ‘n aard dat waar dit teenaan ‘n teerpad groei, dit letterlik die teer lig. By Killarney renbaan is dit ‘n wesenlike probleem wat aangespreek moes word op die agterste pylvak.

KP ·

Ek praat nie die daad goed nie maar as dit bloekombome is kan dit dalk wees omdat dit soos reeds gese uitheems is en geweldig baie water uit die grond neem. Het al gelees so n groot boom trek omtrent 200 liter water per dag uit die grond. Dit het ook n geweldige groot en diep wortel stelsel.

Realis ·

As ons bloekombome wil uithaal moet ons sommer gaan kyk na gholfbane ook. ‘n Versorgde baan gebruik meer as ‘n miljoen liter water per dag vir die genieting van slegs ‘n paar mense. Kan dit geregverdig word? In baie gevalle is dit vars water en nie herwinde water nie. Kikoejoegras is ook ‘n indringer en dit suig net so ‘n enorme hoeveelheid water uit die grond uit. Waar gaan julle begin en waar gaan julle stop om alle indringers uit te roei?

Naas ·

Die Kaapse stadsraad moet wakker word. Hierdie is uitheemse bome, lelik en dien geen doel nie. Hulle suip water teen ‘n ongekende tempo. Dis hoog tyd dat COCT hulle boombeleid skrap en hierdie onooglike bome verwyder. As JP se enorme salaris met 1% verminder word is daar oorgenoeg geld hiervoor.

Sies naas ·

Geen boom is lelik nie.
Bome kan nie kwalik geneem word vir watertekorte in ons land nie!
Bome is belangrik om klimaatsverandering te probeer bekamp.
Sies vir elkeen wat die bome vergiftig!!

Grassie ·

Wow, die haal nuus maar toe hulle honderde van hierdie bome in die Vrystaat waar daar niks ander bome was en die apies se enigste oorblywende huis afgesny het, het niemand niks gesê!

Kas ·

Kyk mooi, sien hulle enige gras onder die home.By one is okkerneutbome op die sypaadjies geplant en daar goeie geen gras nie so jou sypaadjie lyk sleg.

PATTY ·

Met die wind van laas week het n moewiese bloekomboom my kinders se huis in Durbanville net- net gemis. Dit kon baie lelike skade/verlies veroorsaak het.

Pieter OVS ·

Hierdie bome is gemors wat al die ondergrondse water opsuip
en vervaardig GEEN suurstof soos ander bome nie. Ek het sowat 10
van hierdie bome op my plot, en jy kan niks onder die bome plant nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.