Kaapstad bied beurtkrag-verligting

(Foto: pixabay)

Inwoners van Kaapstad sal weer verligting gebied word te midde van Eskom se beurtkrag.

Daar sal Dinsdag en Woensdag geen beurtkrag in Kaapstad toegepas word nie, terwyl die res van die land op fase 2 is.

Geordin Hill-Lewis, Kaapstad se burgemeester, sê verdere aankondigings oor verligting tot en met die naweek sal binnekort gemaak word, afhangende van die stand van waterreserwes by Steenbras.

“Eskom se aankondiging van verdere beurtkrag tot Saterdag moet elke Suid-Afrikaner baie bekommerd maak. Die aankondiging kom net ʼn paar uur ná die nuus bekendgemaak is dat die nasionale ekonomie in die tweede kwartaal van hierdie jaar gekrimp het.”

Maroela Media het vroeër berig die verwoestende oorstromings in KwaZulu-Natal en voortslepende beurtkrag het ʼn reeds kwesbare nasionale ekonomie opnuut verswak. Statistieke Suid-Afrika het Dinsdag gesê ná twee agtereenvolgende kwartale van positiewe groei, het die BBP in die tweede kwartaal van vanjaar met 0,7% gekrimp.

“Dit is ongelukkig nie ʼn verrassing nie,” sê Hill-Lewis. “Vanjaar was die ergste jaar vir beurtkrag met van die hoogste fases beurtkrag ooit wat toegepas is. Elke fase beurtkrag kos die nasionale ekonomie R500 miljoen per fase per dag. Die twee weke van fase 6-beurtkrag teen die einde van Junie/begin Julie het daagliks sowat R4,2 miljard se welvaart verwoes.”

Hy sê beurtkrag is die enkele grootste oorsaak van werkloosheid en gevolglik die grootste oorsaak van armoede. “Hoe meer die nasionale ekonomie poste en welvaart verloor, hoe erger gaan dié sosio-ekonomiese krisis ʼn chroniese en onherstelbare ramp word.”

Hy sê Kaapstad gaan voort met sy pogings om beurtkrag mettertyd tot ʼn einde te bring en die koste van elektrisiteit vir sy verbruikers te verminder. “Ons is in die finale stadium om tegniese aanbiedings te oorweeg oor ons tender vir onafhanklike kragvoorsieners sodat ons nuwe kragopwekking tot die netwerk kan byvoeg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.