Kaapstad-brandbestryders in ontploffing beseer

Stad Kaapstad se brandweer (Foto: ANA)

Vier brandbestryders van Kaapstad is Woensdagoggend vroeg beseer toe gassilinders ontplof het.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit in Kaapstad, het gesê nalatigheid en die verkeerde berging van die silinders het tot die ontploffing gelei. “Alhoewel ek dankbaar is dat die brandbestryders slegs geringe beserings opgedoen het, is ek bewus dat die voorval tot ernstige beserings of selfs noodlottige beserings kon lei.”

Smith het gesê brand- en reddingsdienste het om 05:00 reageer op ʼn brand by ʼn gebou in Protonweg, Belhar. “Die brand het by ʼn vrag hout, wat langs ʼn staalhouer geberg is, uitgebreek. Die inhoud van die gebou of struktuur word, soos in meeste gevalle, nie bekend gemaak nie, tensy die voorval tydens kantoorure plaasvind en die persoon wat die brand aanmeld, van die toneel skakel.”

Die hitte van die brand het na die staalhouer versprei en die persoonlikebeskermingstoerusting het aan die brand geslaan. Die brand het daarna versprei na die plek waar petroleumgas gestoor is, het Smith verduidelik. “Die silinders het oorverhit en ontplof. In dié geval is die silinders gestoor in ʼn gebied waar dit tydens die brand oorverhit het.”

Smith het gesê Stad Kaapstad het al herhaaldelik aangedui dat nalatigheid ʼn rol speel in ʼn hele paar gevalle waar ʼn brand ontstaan en brandbestryders ontbied word.

“Stad Kaapstad se brandbestryders is ʼn passievolle span wat toegewyd is om lewens en eiendom te red. Dit is soms ʼn ondankbare werk. Ek salueer hulle vir hul dapperheid en toegewydheid om inwoners en die stad veilig te hou.”

Kaapstad se brandveiligheidsinspektoraat het die afgelope finansiële jaar nagenoeg 1 700 inspeksies by geboue gehou en op 280 klagtes reageer. Altesaam 1 281 skriftelike kennisgewings is uitgereik vir die oortreding van wetgewing wat met gemeenskapsveiligheid verband hou en twee artikel 56-kennisgewings is uitgereik aan geboue-eienaars om in die hof te verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.