Kaapstad-brande doelbewus gestig

Die brande naby Ou Kaapseweg in Kaapstad (3 Maart 2015) Foto: Andrea Nixon  http://picoftheweek.andynix.co.za/

Die brande in Kaapstad (3 Maart 2015) Foto: Andrea Nixon http://picoftheweek.andynix.co.za/

Twee van die drie brande wat in Maart verwoesting gesaai het in die Kaapse Skiereiland is doelbewus gestig, en die derde een, die grootste van die drie, is moontlik per ongeluk deur ʼn paar haweloses begin.

Die inligting is Donderdag in ʼn verslag ná ʼn forensiese ondersoek deur die stad Kaapstad bekend gemaak. Dr. David Klatzow, forensiese ondersoekbeampte, het gesê hy het klinkklare bewyse dat die grootste brand aan die bokant van Pecks Valley net bo St James begin is. Hy het ʼn gedeeltelik gebrande kombers en twee sigaretaanstekers gevind as bewyse dat die brand daar begin het. ʼn Foto wat saam met die verslag versprei is, wys die klipperige gedeelte waar die haweloses moontlik hul vuur gemaak het.

“Daar bestaan min twyfel dat die groot brand wat na Houtbaai versprei het, naby of reg by hierdie rotsskuiling begin het, en dat dit deur mense begin is,” het Klatzow gesê. “Dit is heel waarskynlik per ongeluk deur haweloses, godsdienstige groepe of oornagkampeerders begin.”

Volgens hom kon die brand wat nader aan Scarboroughweg begin het, ook nie enigiets anders wees buiten dat mense dit begin het nie. “Daar is geen moontlike elektriese oorsake nie,” het hy gesê.

Hy het dieselfde gevolgtrekking gemaak vir die brande wat aan die hellings van Clovelly begin het. “Die brande is waarskynlik deur mense gestig, wat doelbewus ʼn groot brand wou begin.”

Die brande het internasionaal die nuus gehaal en meer as 3 000 hektaar en ʼn paar huise is vernietig, veral naby Tokai-woud.

Die stad het nog nie amptelike syfers bekend gemaak nie, maar die brande het die belastingbetaler moontlik enigiets tussen R20 miljoen en R40 miljoen uit die sak gejaag.

Lees alle vorige berigte oor die bergbrand op Maroela Media.

Bron: Giordano Stolley, News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Peet Schabort ·

Wat ‘n ontsettende vuur! Vergelyk die vlamme met die Kaapstad-ligte.
Onwillekeurig sou buurtkrag ‘n nog meer skouspelagtige gesig ten toon gestel het. Was daar al ooit so ‘n groot vuur?
Indien nie, dan kan Jan vir Jacob die skuld gee . . .

Gina ·

Wys jou nou net. As die staat R40 miljoen gevat het en vir die haweloses plek gebou het en voorsiening gemaak het in al die armes se behoeftes dan was die brand nie daar nie. Sassa geld van R1350. is niks ten vergelyking met Grootkoppe in die Staatsdiens se salarisse nie… Hoop die Staat leer uit die brand uit. Tyd dat mense begin opstaan vir hul regte

zahn ·

Die inleidingsparagraaf maak my kriewelrig, sodra dit hawelose mense is, is dit per ongeluk. Asof hulle glad nie dronk raak nie, glad nie vieslik praat nie, glad nie geld het nie. Dan het hulle ook glad nie verantwoordelikheid nie. Lees verder, dan het die manne op sigaretaanstekers afgekom. Sien,die haweloses is al te ghrend vir vuurhoutjies!

Nellie ·

Mense het hul lewens verloor ander weer hul wonings en al hul besittings waarvoor hulle gewerk het. Dit is krimineel.

Alki ·

Ek is nie verbaas om te hoor dat die brande doelbewus gestig is nie, het dit soort van verwag, daar is mos ‘n sekere party wat al lankal dreig om Kaapstad onregeerbaar te maak, kan maar net wonder, waar daar ‘n rokie trek brand daar gewoonlik ‘n vuurtjie, in hierdie geval die hele berg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.