Kaapstad-damme byna 100% vol

Theewaterskloofdam (26 September 2020) (Foto: @Louis96018668 / Twitter)

Die algehele kapasiteit van damme wat water aan Kaapstad verskaf het tussen 21 September en 27 September van 98,2% tot 99,5% gestyg. Dit is ʼn 1,3% toename teenoor die vorige week.

Waterverbruik het boonop vir dieselfde periode met 15 miljoen liter water per dag afgeneem van ʼn gemiddeld van 666 miljoen liter water per dag na 651 miljoen liter water per dag.

Die damvlakke het verlede jaar tydens dieselfde periode op 81,9% gestaan.

“Die streek het ʼn geskiedkundige oomblik beleef. Ons damvlakke is byna 100% vol,” het Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir water en afval, gesê. “Ná ses lang jaar waar ons vir goeie reën gewag het, met ʼn periode waar ons erge droogte beleef het en waterbeperkings moes instel, is dit ʼn triomf vir die stad om die damme só naby aan vol te sien.”

Limberg het gesê die stad het ʼn lang geskiedenis van waterstres omdat dit in ʼn halfdor gebied geleë is. “Selfs nog voor die moontlikheid van Dag Zero, het die stad groot sukses behaal om weerstandigheid op te bou deur bestuursbeleide wat in die vroeë 2000’s geïmplementeer is om die aanvraag na water bestuur.”

Die stad se waterbestuursprogram het vyf jaar gelede internasionaal erkenning ontvang vir sy sukses om by klimaatsverandering aan te pas en het die Adaptation Implementation-kategorie by die 2015 C40-stede-toekenning ontvang.

“Vol damme verteenwoordig nie net Kaapstad-inwoners se sukses om water te bespaar nie, maar ook harde werk en vaardige bestuur dekades voor die waterkrisis ons getref het.”

ʼn Finale besluit oor waterbeperkings sal aan die einde van die reënvalseisoen op 31 Oktober geneem word, in konsultasie met die nasionale regering, die landboubedryf en kleiner munisipaliteite.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Yvonne

Dankie Here vir die seening……dankbaar ook vir die kundigheid wat water bestuur…kan die res van die land nie maar asb hier leer nie

andre

Ek is van Hermanus,ons dam is nog nie naastenby op die gemiddelde vlak nie. Die toestroming van die res van die land se inwoners en buurlande plaas baie druk op bestaande infrastruktuur

Vriendelike Frikkie

In Pretoria volg die munisipaliteit ‘n ander taktiek. Hulle los waterlekke om vir weke en selfs maande te loop. Op die manier voeg hulle miljoene liters water by die riviere en waterstelsel. So ons damme sal nooit leeg word nie want hulle vul dit aan met munisipale drinkwater. Baie slim.
Daar is waterlekke in Capital Park wat van Februarie af uitborrel. Daar het al ‘n heel nuwe ekosisteme rondom die vloeiende water ontstaan. Indien dit ongeloofbaar klink, kom kyk self.