Kaapstad-damvlakke bereik allemintige 70%

water-kraan

Foto: Pixabay.com

Die gesamentlike damvlakke in Kaapstad het die afgelope twee weke tot ʼn allemintige 70% gestyg.

Die Stad Kaapstad het in ʼn verklaring gesê die gemiddelde waterverbruik vir die afgelope week het van 526 miljoen liter per dag na 505 miljoen liter per dag verminder.

Die stad se uitvoerende adjunkburgemeester, Ian Neilson, het gesê die metro het verlede week aangekondig dat waterbeperkings en die gepaardgaande hoër tariewe vanaf Oktober verslap sal word.

Die droogte wat die Wes-Kaap vir lank in ʼn knelgreep gehad het en die al meer dalende damvlakke het tot gevolg gehad dat Vlak 6B-waterbeperkings vanaf Februarie ingestel is. Dit het gepaardgegaan met hoër watertariewe en Kapenaars moes behoorlik planne maak om water genoegsaam te bespaar om Dag Zero te vermy.

Waterbeperkings sal vanaf 1 Oktober 2018 na Vlak 5 verminder word as gevolg van die herstel van die damvlakke en die volgehoue waterbesparingspogings van Kapenaars.

“Aangesien die verbruik onder die Vlak 6B-waterbeperkings nooit die doelwit van 450 miljoen bereik het nie en rondom 500 miljoen liter per dag gebly het – wat die teiken vir Vlak 5-beperkings is, het die stad besluit om die beperkings en die tariewe na Vlak 5 te verslap. Dít sal verligting aan waterverbruikers bied en behoort Oktober in hul munisipale rekeninge te reflekteer.”

Neilson verduidelik dat tariewe op verbruik gebaseer is en dus lei laer gebruik tot laer kostes.

Hy het inwoners gemaan om aan te hou om water te bespaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

willie ·

Ironies dat Pretorie waterbeperkings het terwyl die damme vol is! Alles te danke aan infrastrukture wat nie aangepas is met die bevolkings groei nie! Beplanning, onderhoud en reserwes is mos die groot remskoene in die nuwe bedeling! Red nou ñ nasie!

Wolkie ·

Kalmeer broer.. dit het lanklaas oordentlik gereen, het jy nie agtergekom al die brande wat links en regs opsteek nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.