Kaapstad-diewe se planne in die wiele gery

(Foto verskaf deur SAPD, Kaapstad)

Wetstoepassers in Kaapstad het die afgelope vier dae beslag gelê op minstens ses gesteelde motors, het die Stad Kaapstad Maandag gesê.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid van veiligheid en sekuriteit, het in ʼn verklaring gesê die jongste voorval was Maandagoggend toe beamptes ʼn stilstaande rooi Volkswagen Golf in Delft opgemerk het. “Hulle het gesien daar is met die nommerplaat gepeuter en tydens verdere ondersoek is daar bevestig die motor is vroeër vandeesmaand in Strand gesteel. ʼn 35-jarige verdagte is in hegtenis geneem en word by Delft-polisiestasie aangehou,” lui die verklaring.

Beamptes het Sondag ʼn motor in Kensington voorgekeer en gesien die lisensieskyf en nommerplaat kom nie ooreen nie. “Beamptes het ontdek die motor is gesteel en die 41-jarige verdagte is in hegtenis geneem. Daar is verder bevestig die verdagte word gesoek in verband met huisbraak en diefstal. Sy passasier is ook in hegtenis geneem in verband met ʼn uitstaande lasbrief.”

Een van die gesteelde motors wat gevind is (Foto verskaf deur SAPD Kaapstad)

Petroljoggies het Saterdag die polisie ontbied toe ʼn 26-jarige man van ʼn vulstasie wou wegry sonder om te betaal. Hy is tydens sy inhegtenisneming ook aangekla van diefstal, die besit van dwelmmiddels en besit van ʼn gesteelde motor.

Altesaam 21 persone is Saterdag in hegtenis geneem tydens ʼn gesamentlike operasie tussen die Stad Kaapstad en die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Delft, Nyanga en Bellville, hoofsaaklik op grond van uitstaande lasbriewe. “Beamptes het 171 lasbriewe bedien, 11 taxi’s geskut en 806 boetes uitgereik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dafer ·

As hierdie trend volhou, en almal swaai deur om mense in die tronk te kry, sal ek se die regte pad is gevat!

JAN ·

wens meer stede en dorpe kon praat om te vertel wat hulle sien , ………

Nettie ·

@JAN – meer sulke suksesse sou behaal word, as mense nie net ‘n horende oor en ‘n siende oog weggedraai het van dinge wat verkeerd is of verkeerd loop nie – met die siening van “dit traak my nie, daarom sal ek nie inmeng nie”. En ook as die SAPD op enige aanmelding van misdaad wat hulle kry, werklik reageer.

My buurman is ‘n dwelmhandelaar. Ek het dit al male sonder tal by die plaaslike polisie aangemeld. Hul reaksie? Hulle kan nie reageer as hulle nie die ou op heterdaad kan betrap nie, m.a.w. wanneer daar ‘n ‘transaksie’ plaasvind nie – die polisiekantoor is so 10 min. van ons af – teen die tyd wat die “vên” daar aankom (dis nou ás daar die dag ‘n vên beskikbaar is wat nie gebruik word om die vrou en kinders winkels of skool toe te vervoer nie), is die ‘transaksie’ lánkal reeds afgehandel en die ‘dealer’ en sy kliënte lánkal weg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.