Kaapstad-droogte: Strenger waterbeperkings om die draai

water-kraan

Foto: Pixabay.com

Wes-Kaapse damvlakke is tans minder as 20%, dit is 0,8% laer as ʼn week gelede. Met die laaste 10% van ʼn dam se water wat grootliks nie bruikbaar is nie, beteken dit die damvlakke is effektief op 9,7%.

Waterverbruik is egter steeds op 666 miljoen liter, wat meer is as die teiken van 600 miljoen liter water.

“Inwoners word daaraan herinner dat water slegs gebruik mag word om te drink, mee te was en te kook,” het Xanthea Limberg van die burgemeesterskomitee vir informele nedersettings, water en afvaldienste gesê. “Strenger maatreëls sal hierdie week ingestel word. Die presiese beperkings sal nog deur die raad vasgestel word, maar ʼn algehele verbod op (onder andere) alle besproeiing, volmaak van swembaddens en die was van motors word aanbeveel.”

Limberg het gesê die Stad neem ook kennis van gerugte oor watergehalte in Kaapstad. “Met die laaste 10% van ʼn dam se volume is dit moeilik om die water tot aanvaarbare standaarde te behandel. Ons het egter nog nie hierdie vlak bereik nie. Die water is veilig om te drink.”

Intussen het Anton Bredell, minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, gesê die damvlakke is ʼn groot kommer voor die verwagte reënvalperiode. Hy het gesê rampbestuurspanne bly op hoë gereedheid indien sake sou vererger.

“Volgens die jongste data is Voëlvleidam tans 14,7% vol, Tweewaterskloof 13,4% en Clanwilliam-dam 6%. Die situasie bly ernstig,” het Bredell gesê.

Hy het gesê die provinsiale regering stel ʼn aantal kort- en mediumtermynplanne in werking om die situasie aan te spreek.

Hy maan die publiek om steeds water te bespaar wanneer dit wel begin reën, na verwagting binne die volgende paar weke. “Ons moet seker maak dat die damvlakke herstel. Suid-Afrikaners moet nog baie leer oor hoe om water verantwoordelik te gebruik.”

Die jongste damvlakke volgens die nasionale departement van water en sanitasie:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Glenn Baard Namibia ·

Die oplossing is ontsoutingsaanleg Dit werk by ons in Namibia. Kan nie glo die Wes Kaap het nie lankal hierna gekyk nie.

Anoniem ·

Sekere woongebiede steur hulle maar min aan die watertekort en waterbeperkings. Net verlede week ry ek deur Gugulethu en orals is mense besig om taxis met tuinslange op die sypaadjies te was en die beste van alles is, die polisie ry net verby en doen niks.

SARIE VAN HEERDEN ·

Waterskaarste is ‘n ramp en almal MOET saamwerk in besparing daarvan MAAR ek sien daagliks plasse water om krane en waterkarre waar mense kan kom skep of haal. Daardie plasse water is miskien ‘n beker vol water vir iemand om te gebruik. Mense wat goed verniet kry waardeer dit nie en pas dit nie op nie. VOED MENSE OP.

Gert ·

Dis baie hartseer. Wonder wat is die planne as die dam leeg raak.

Fires ·

Die enigste uitweg is om afvalwater te suiwer tot op huishoudelike standaard, dit kan gedoen word, Beaufort Wes is ‘n voorbeeld. Ontsouting gaan net by die kus werk en dan gaan verbruikers tot R3.00 per liter betaal want baie energie vir die proses word benodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.